1Die wysheid, die verstand, is soos 'n vrou. Sy praat hard, sodat almal haar kan hoor.
2Sy gaan staan op die hoë plekke langs die pad, by die plek waar die paaie bymekaarkom,
3en ook langs die poorte waar 'n mens ingaan in die stad. Sy staan by die deure en sy skree:
4“Mense, ek praat met julle. Mense, ek roep julle.
5Julle wat baie min weet, julle moet leer wat julle moet doen, julle wat soos dwase is, julle moet verstandig word.
6Julle moet luister, want ek wil belangrike dinge sê. Wanneer ek praat, dan sê ek dinge wat reg is.
7Ja, ek sal die waarheid praat, ek haat verkeerde dinge.
8Alles wat ek sê, is reg. Niks wat ek sê, is vals en verkeerd nie.
9Mense wat wil leer en wil verstaan, sal weet dat al my woorde eerlik en reg is.
10Julle moet doen wat ek vir julle sê, dit is beter as om silwer te hê. Om dinge te weet, is beter as om die beste goud te hê.
11Ja, wysheid is beter as koraal, wysheid is beter as enige iets wat jy graag sal wil hê.
12Ek is wysheid. Waar ek is, daar weet mense wat om te doen, ek weet wat mense moet leer om die regte dinge te kan doen.
13Mense wat nie daarvan hou om ander mense te bedrieg nie, is mense wat die Here respekteer en Hom dien. Ek haat mense wat hoogmoedig en trots is, mense wat sleg lewe en vals is wanneer hulle praat.
14Ek help mense om reg te besluit en om die regte wysheid te kry, ek maak mense slim en sterk.
15Konings gebruik my wanneer hulle regeer, leiers gebruik my wanneer hulle moet sê wat reg is.
16Amptenare, belangrike mense, almal wat reg moet oordeel, gebruik my.
17Ek is lief vir mense wat lief is vir my, mense wat my soek, kry my.
18Mense wat wysheid het, sal baie goed hê, en ander mense sal hulle respekteer. Hulle sal ryk wees, en dit sal goed gaan met hulle.
19Ek gee vir mense dinge wat beter is as goud, beter ook as goeie goud, beter as die beste silwer.
20Waar ek gaan, daar lewe mense reg, en daar doen hulle reg aan ander mense.
21Ek maak die mense ryk wat lief is vir my, ek maak hulle stoorkamers vol.”
22Die wysheid sê: “Die Here het my gemaak, Hy het my eerste gemaak. Ek is die eerste ding wat Hy gemaak het.
23Ek is lankal daar, van die begin af, voordat die aarde daar was.
24Ek was klaar daar toe die diep water nog nie daar was nie, toe daar nog nie fonteine vol water was nie.
25Ek het gekom voordat die Here die berge op hulle plekke gesit het, voordat daar heuwels was.
26Dit was voordat die Here die aarde en die veld gemaak het, voordat daar grond in die wêreld was.
27Ek was ook daar toe die Here die hemeldak gemaak het, toe Hy besluit het waar die diep water moet ophou en waar die lug moet begin,
28toe Hy vir die wolke daarbo 'n plek gemaak het en die sterk fonteine van die diep water oopgemaak het.
29Ek was daar toe Hy gesê het hoe ver die water van die see mag kom en toe Hy die fondamente van die aarde neergesit het.
30Ek het alles by Hom geleer wat ek weet, Hy was elke dag bly dat ek daar is, dit was vir my lekker om altyd naby Hom te wees.
31Ek het dit geniet tussen die mense wat op sy aarde woon, dit was vir my lekker tussen die mense.
32Daarom, kinders, julle moet luister na my. Dit gaan goed met mense wat lewe soos ek lewe.
33Julle moet luister na wat ek vir julle leer, dan sal julle wysheid kry. Julle moenie dit los nie.
34Dit gaan goed met mense wat luister na my, mense wat wakker bly en elke dag staan en wag by my deure, die deure waardeur julle kan inkom na my toe.
35Want mense wat wysheid kry, kry die lewe, en die Here hou van hulle.
36Maar die mense wat nie wysheid wil hê nie, is mense wat hulleself wil laat swaarkry. Almal wat nie van my hou nie, is mense wat lief is vir die dood.”