Proverbs 1ABA

1Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel.

2Spreuke leer vir jou wysheid. Dit leer vir jou om te weet wanneer mense verstandige dinge sê,

3en dit leer vir jou om te luister wanneer iemand vir jou die regte dinge leer oor wat goed en reg en regverdig is.

4Spreuke maak jong mense wat baie min weet, verstandig, sodat hulle sal weet wat die regte dinge is om te doen.

5Wyse mense moet ook luister na die spreuke, sodat hulle nog meer sal weet. Verstandige mense moet leer,

6sodat hulle die spreuke en die slim dinge wat wyse mense sê, sal verstaan.

7Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim. Dit is dwase wat dink dit is nie belangrik om wysheid te hê en om te leer nie.

8My kind, jy moet luister na wat jou pa en jou ma vir jou wil leer, jy moenie vergeet wat hulle vir jou leer nie.

9As jy dit nie vergeet nie, dan sal jy 'n mooi lewe hê.

10My kind, wanneer sondaars jou verkeerd wil laat doen, dan moet jy nie luister na hulle nie.

11Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons, dan wag ons totdat iemand verbykom, en dan maak ons hom dood, dit maak nie saak of hy niks verkeerd gedoen het aan ons nie.

12Hy is nog lewendig en gesond wanneer ons hom vang, maar ons sal hom laat sterf en laat afgaan na die doderyk, na die graf.

13Dan sal ons baie kosbare goed kry en ons sal ons huise volmaak met die goed wat ons vat.

14Jy sal een van ons wees en ons sal almal kry van die goed wat ons vat.”

15My seun, jy moenie dan saam met daardie mense gaan nie,

16want hulle wil verkeerde dinge gaan doen, hulle wil mense vermoor.

17Wanneer 'n voël 'n vangnet sien wat mense vir hom styfgetrek het, dan vlieg die voël nie vas in die net nie.

18Maar hierdie mense trek 'n net styf vir hulleself, hulle sal in hulle eie net sterf.

19Elke mens wat ander mense se goed wil vat, sal sterf. Dit is wat met hom sal gebeur.

20Die wysheid is soos 'n vrou wat langs die straat staan en roep. Sy skree op die oop stukke grond in die stad,

21sy skree by die plekke waar die mense bymekaarkom, sy staan voor die poorte van die stad en sy sê:

22“Julle wat baie min weet, hoe lank sal julle tevrede wees om min te weet? Hoe lank sal dit lekker wees vir mense om aan te hou spot, hoe lank sal dwase dit haat om dinge te weet?

23Julle moet weer kom luister na wat ek vir julle wil leer. Ek sal vir julle alles sê wat ek weet, ek sal julle help om te verstaan wat ek sê.

24Toe ek geskree het, wou julle nie luister nie, toe ek my hand uitgesteek het om julle te roep, het niemand gekyk nie.

25Julle het gemaak of julle nie hoor wat ek alles gesê het nie, julle wou nie dat ek vir julle leer nie.

26Daarom sal ek ook lag en spot wanneer dit sleg begin gaan met julle, wanneer julle skrik.

27Julle sal skrik soos wanneer daar 'n stormwind kom, soos wanneer 'n sterk wind alles verwoes en julle baie bang word.

28Dan sal julle skree en vra dat ek moet help, maar ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek, maar julle sal my nie kry nie.

29Dit sal gebeur omdat julle dit haat om dinge te weet, en omdat julle nie gehoorsaam wou wees aan die Here en Hom nie wou eer nie.

30Julle wou nie luister na wat ek vir julle sê nie, ek wou vir julle leer, maar julle het gedink dit is onbelangrik.

31Nou sal julle swaarkry oor wat julle gedoen het, julle sal baie probleme kry oor julle eie planne.

32Ja, mense wat min weet, sterf omdat hulle nie wil luister nie, dwase gaan dood omdat hulle tevrede is met hulleself.

33Maar die mense wat na my luister, woon veilig, hulle is nie bekommerd nie, hulle is nie bang dat dit sleg sal gaan nie.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.