Bible

Elevate

Your Sunday Morning Worship Service

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Lamentations 4

:
Afrikaans - ABA
1 Hoekom het dit gebeur? Die goud blink nie meer nie, dit het dof geword. Die goeie goud het verander. Mense het die gewyde edelstene op die hoeke van die strate weggegooi.
2 Die goeie mense van Sion was soos goud, hulle was baie spesiaal, maar nou beteken hulle so min soos die kleipotte wat die pottebakker met sy hande maak.
3 Jakkalse laat hulle kleintjies drink, maar my volk is so wreed soos volstruise in die woestyn.
4 Die babatjies is baie dors, hulle tonge sit vas bo in hulle monde. Hulle vra kos, maar daar is niemand wat vir hulle iets gee nie.
5 Mense wat lekker kos geëet het, sterf nou eensaam op die strate. Mense wat koningsklere gedra het, sit nou op die ashope.
6 My volk het meer sonde gedoen as die mense van die stad Sodom. Die Here het Sodom baie vinnig verwoes, en niemand het sy hand uitgesteek om hulle te help nie.
7 Die leiers in Jerusalem was skoner as sneeu, witter as melk, hulle liggame was rooier as koraal, hulle was so mooi soos saffier.
8 Maar nou is hulle swarter as roet, niemand ken hulle wanneer hulle op die strate loop nie. Hulle is baie maer, hulle is so droog soos hout.
9 Dit het beter gegaan met mense wat gesterf het in die oorlog, beter as met die mense wat sterf van honger. Die mense het stadig gesterf omdat hulle niks koring afgesny het om te eet nie.
10 Vroue wat voorheen jammer was vir hulle kinders, het nou hulle kinders gekook en geëet. Kinders het kos geword toe die vyande my volk oorwin het.
11 Die Here was kwaad, Hy het nie opgehou om hulle te straf nie. Hy het 'n vuur aangesteek in Jerusalem, en die hele stad het verbrand.
12 Die konings van die aarde, al die mense in die wêreld, het gedink dat vyande nooit deur die poorte van Jerusalem sou kon kom nie.
13 Maar dit het gebeur. Hoekom? Dit het gebeur oor die sonde van die profete, oor die verkeerde dinge wat die priesters gedoen het. Hulle het onskuldige mense laat sterf in die stad.
14 Mense het soos blindes rondgeloop op die strate. Hulle was vol bloed, niemand wou aan hulle klere raak nie.
15 Ander mense het vir hulle geskree: “Gaan weg, julle is onrein! Gaan weg! Gaan weg! Julle moenie aan ons raak nie!” Hulle het toe weggegaan en hulle wou tussen ander volke gaan woon, maar daardie volke het gesê: “Julle mag nie vreemdelinge hier by ons wees nie.”
16 Dit was die Here self wat hulle na al die kante toe gejaag het. Hy wou hulle nie meer sien nie. Hy wou nie met die priesters praat nie, Hy wou nie jammer wees vir die leiers nie.
17 Ons het aangehou kyk of iemand ons sal kom help, maar niemand het gekom nie. Ons het gewag en gewag, maar nie een volk het ons kom help nie.
18 Die vyande het ons spore gevolg soos jagters, ons kon nie kom op die oop stukke grond in die stad nie. Ons dood was naby, ons lewe was verby, ja, ons einde het gekom.
19 Ons vyande was vinniger as die arende in die lug. Hulle het ons gejaag op die berge, hulle het vir ons gewag in die woestyn.
20 Die gesalfde van die Here, die man wat vir ons so belangrik was soos die asem in ons neus, het 'n gevangene geword in die tronk van die vyande. Ons het voorheen van daardie man gesê: “Hy sal ons beskerm wanneer ons tussen die heidene moet woon.”
21 Mense van Edom, julle moet dit geniet. Julle wat in die land Us woon, julle moet wys julle is bly, maar die beker van swaarkry sal na julle toe ook kom. Julle sal dronk word en julle sal julle kaal uittrek.
22 Mense van Sion, die Here het julle klaar gestraf, dit is nou verby, die Here sal julle nie gevangenes laat bly nie. Maar, mense van Edom, vir júlle sal die Here nóú straf, Hy sal julle sondes vir almal wys.