Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Lamentations 1

:
Afrikaans - ABA
1 Hoekom het dit gebeur? Kyk hoe leeg is die stad, die stad waar baie mense gewoon het. Die stad het geword soos 'n weduwee. Die mense van die wêreld het almal gedink dit is 'n groot en belangrike stad. Maar die mense van die stad moet nou vir ander volke werk.
2 Hulle huil die hele nag lank, hulle trane vloei oor hulle wange. Daar is niemand wat die stad nou wil help nie, nie een van almal wat lief was vir haar nie. Haar vriende het ontrou geword, hulle het haar vyande geword.
3 Die mense van Juda het gevangenes geword wat swaarkry en hard moet werk. Hulle woon tussen die volke en hulle kry nie 'n plek waar hulle kan rus nie. Al die vyande wat vir hulle gejaag het, het vir hulle gevang, hulle kon nie vlug nie.
4 Daar is niemand op die paaie na Sion nie, niemand kom om daar fees te vier nie, daar is nie mense in die poorte nie. Die priesters kla en sug, die jongmeisies huil en treur, dit gaan sleg met almal in die stad.
5 Die vyande van Jerusalem regeer nou, en dit gaan goed met hulle. Dit gebeur omdat die Here die mense van die stad straf oor hulle baie sondes. Hulle moes weggaan, hulle het gevangenes geword, hulle vyande het hulle gejaag.
6 Al die belangrike mense van die stad moes weggaan. Die amptenare het geword soos takbokke wat nie gras kry om te vreet nie. Hulle het nie krag gehad om te veg teen die mense wat hulle jaag nie.
7 Jerusalem is soos 'n weduwee wat dink hoe sleg dit met haar gaan. Sy dink daaraan dat sy nie meer 'n woonplek het nie, en sy onthou al die mooi goed wat sy gehad het. En dan dink sy hoe die vyande haar mense oorwin het, en dat daar niemand was wat gehelp het nie. Ander vyande het gestaan en kyk, hulle het gelag toe die stad verwoes is.
8 Die mense van Jerusalem het sonde gedoen, baie sonde. Dit is hoekom die stad geword het soos 'n vuil, kaal vrou. Mense het haar voorheen gerespekteer, maar hulle spot en verneder haar nou, want hulle sien sy is kaal. En wat doen sy? Sy sug en draai weg.
9 Haar klere het onrein geword, sy het nie gedink aan wat met haar kan gebeur nie. Niemand het geglo dat dit so sleg met haar sal gaan nie. Niemand het haar gehelp nie. Jerusalem het geskree: “Here, kyk hoe sleg gaan dit met my, want die vyande doen wat hulle wil.
10 Hulle het al my mooi goed vir hulleself gevat. Ek het gesien heidene kom in die tempel. Maar, Here, U het gesê heidene mag nie in u gemeente kom nie.
11 Al die mense van die stad het gekla en gesug terwyl hulle loop en kos soek. Hulle het kosbare goed gegee om kos te kry, want hulle was honger.” Jerusalem skree: “Here, U moet kyk en sien hoe hulle my verneder.
12 Julle almal wat hier op die pad verbygaan, wil julle my nie help nie? Julle moet kyk of daar ander stede is met wie dit so sleg gaan soos die Here dit met my laat gaan. Het die Here met ander stede gedoen soos Hy met my gedoen het toe Hy vir my kwaad geword het?
13 Hy het vuur van bo gestuur in my liggaam in, en dit het in my gebrand. Hy het 'n vangnet neergesit om my voete te vang. Hy het my op my rug laat val, en my alleen gelos en my siek laat word, elke dag.
14 Die Here het my sondes bymekaargesit. Hy het dit gevat en Hy het daarvan 'n juk gemaak, Hy het dit op my nek gesit. Ek het nie meer krag gehad nie. Die Here het my vyande laat wen teen my, ek kon niks doen teen hulle nie.
15 Die Here het al my sterk manne verneder, almal wat kon veg. Die vyande het dit geniet om my manne te oorwin. Die Here het op die volk Juda getrap soos 'n mens druiwe trap in 'n parskuip.
16 Ek huil oor hierdie dinge, daarom vloei die trane soos water uit my oë, want daar was niemand naby wat my kon help nie, niemand wat dit met my beter kon laat gaan nie. My mense is verwoes, want die vyande was te sterk vir hulle.”
17 Sion steek haar hande uit en vra iemand moet help, maar niemand help haar nie. Die Here het van al die kante vyande na Jakob toe gestuur. Jerusalem was soos 'n vuil stuk lap tussen hulle.
18 Jerusalem het geskree: “Die Here het reg gedoen, want ek was opstandig teen Hom. Volke, julle almal moet luister, julle moet kyk hoe sleg gaan dit met my. My jongmeisies en my jongmanne moes weggaan, hulle is gevangenes.
19 Ek het die mense geroep wat lief was vir my, maar hulle het my verraai. My priesters en my leiers het gesterf terwyl hulle kos in die stad gesoek het, want hulle was honger.
20 Here, U moet kyk, want ek kry baie swaar. Dit pyn binne-in my, my hart kan nie rus nie, want ek was baie opstandig teen U. My mense sterf in die oorlog op die strate, en in die huise sterf die mense.
21 Al my vyande het gehoor hoe ek kla en sug, niemand het my gehelp nie. Toe my vyande hoor dit gaan sleg met my, het hulle gejuig omdat dit U was wat dit met my gedoen het. U het gesê dit sal eendag gebeur en U moet dit nóú laat gebeur, U moet my vyande straf soos U my gestraf het.
22 U moet die slegte dinge onthou wat hulle gedoen het, en U moet met hulle doen soos U met my gedoen het omdat ek opstandig was teen U. Want ek kan nie ophou kla en sug nie, my hart het swak geword.”