Job 4
1 Elifas van die land Teman het begin praat. Hy het gesê:
2 “Job, jy sal miskien nie daarvan hou dat ek vir jou iets probeer sê nie. Maar ek kan nie stilbly nie.
3 Luister na my, jy het vir baie mense geleer hoe hulle moet lewe, jy het mense wat moedeloos was, weer sterk gemaak,
4 Party mense wou val, maar jy het hulle gehelp om regop te bly, jy het hulle sterk gemaak om aan te hou lewe.
5 Maar nou gaan dit sleg met jóú, en nou is jy moedeloos, nou gebeur dit met jou, en nou is jy bang.
6 Jy het altyd vir God gedien, jy was 'n goeie man, jy het heeltemal reg gelewe. Daarom moet jy nou hoop en weet dat dit weer beter sal gaan.
7 Dink 'n bietjie hieroor: Is daar iemand wat onskuldig was en gesterf het? Is daar 'n eerlike mens wat verdwyn het?
8 Ek sien dat dit sleg gaan met die mense wat slegte dinge doen, ek sien dat die mense wat ander mense wil laat swaarkry, self swaarkry.
9 God word kwaad vir hulle, en hulle sterf, God vee hulle weg van die aarde.
10 Leeus kan brul en raas, maar as 'n leeu sy tande verloor,
11 dan kan hy niks vang nie, dan gaan hy dood van die honger, en sy welpies loop oral rond.
12 “Ek het gehoor dat iemand sag praat, ek kon nie baie goed hoor wat hy sê nie.
13 Dit was toe ek gedroom het, toe almal vas geslaap het.
14 Ek het geskrik en ek het bang geword, my hele liggaam het gebewe.
15 'n Wind het oor my gewaai, die hare op my liggaam het regop gestaan.
16 Daar het iemand gestaan, ek kon nie sien wie hy is nie, maar ek het gehoor dat hy sê:
17 ‘Sal God kan sê dat 'n mens reg lewe? Sal 'n mens onskuldig kan wees voor die Een wat hom gemaak het?
18 Nee, God weet dat sy dienaars in die hemel nie altyd doen wat hulle moet doen nie, Hy weet dat sy engele ook foute maak.
19 Die mense wat Hy gemaak het van klei en van stof, maak nog meer foute, 'n mens kan daardie mense plat druk soos motte.
20 Mense sterf elke dag, hulle verdwyn vir altyd, en niemand sien dit nie.
21 Hulle sterf en hulle is weg en hulle het nie wysheid gekry nie.’