Job 31ABA

1Job het gesê: “Ek het vir myself gesê ek mag nooit na 'n jongmeisie kyk en haar begeer nie.

2Maar wat het God aan my gedoen? Sal die Almagtige in die hoë hemel iets vir my doen?

3Dit moet sleg gaan met mense wat verkeerd doen. Mense wat slegte dinge doen, moet swaarkry.

4God weet hoe ek gelewe het, Hy weet alles wat ek gedoen het.

5Ek was nie vals en skynheilig nie.

6Wanneer God my toets, dan sal Hy weet dat ek heeltemal reg gelewe het.

7Ek het nie weggedraai van die regte pad nie, ek het nie iets gevat wat ek graag wou hê nie, my hande is skoon.

8As my hande nie skoon is nie, dan moet ander mense die koring eet wat ek gesaai het, hulle moet die plante uittrek wat ek geplant het.

9Ek het nie iemand anders se vrou begeer en gewag om skelm by haar te gaan slaap nie.

10As ek dit gedoen het, dan moet my vrou vir 'n ander man kos gaarmaak en dan moet hý seks hê met haar,

11want dan het ek iets gedoen wat baie verkeerd is, en dan moet die Regter my straf.

12Dit sal vir my wees soos 'n vuur wat brand tot in die onderwêreld, 'n vuur wat alles verbrand wat ek het.

13Ek het altyd reg gedoen aan 'n slaaf of slavin wanneer een van hulle my beskuldig het.

14As ek nie reg gedoen het aan hulle nie, wat sal ek doen wanneer God my oordeel? Wat sal ek kan antwoord wanneer Hy vra wat ek gedoen het? Niks.

15Hy het my gemaak en Hy het ook my slawe gemaak. Dieselfde God het ons gemaak.

16Wanneer arm mense iets wou hê, dan het ek nie nee gesê nie, en ek het nie 'n weduwee honger laat bly nie.

17Ek het nie my kos alleen geëet nie, ek het vir weeskinders ook van my kos gegee.

18Ja, ek was altyd soos 'n pa vir weeskinders en ek het weduwees altyd gehelp.

19Wanneer ek gesien het dat 'n arm mens nie klere het nie en dat hy koud moet slaap,

20dan het ek vir hom klere gegee van my eie skape se wol, en hy het vir my dankie gesê.

21Ek het nie my vuis vir 'n weeskind gewys nie, ook nie wanneer ek gesien het dat die ander mense in die poort sal sê dat dit reg is nie.

22As ek dit gedoen het, dan moet iemand my arms breek en uit my skouers ruk.

23Ja, ek was bang dat God my sal straf, ek sou nie voor Hom, die Koning, kon staan nie.

24Ek het nie gedink dat goud my sal beskerm sodat dit goed sal gaan met my nie.

25Ek was nie hoogmoedig omdat ek ryk was en baie goed bymekaargemaak het nie.

26Ek het nie na die son gekyk wat so helder skyn of na die maan wat so blink,

27en ek het my nie dan laat verlei nie. Ek het nie vir hulle soene gegooi met my hand en hulle gedien wanneer niemand kyk nie.

28As ek dit gedoen het, dan het ek sonde gedoen, en dan moet God my straf, want dan was ek vals teen Hom.

29Ek was nie bly wanneer dit skielik sleg begin gaan het met mense wat my haat nie, ek het nie gejuig wanneer hulle begin swaarkry nie.

30Ek het nie die sonde gedoen om daardie mense te vervloek nie.

31Die mense wat in my huis gekom het, het nooit honger weggegaan nie,

32ek het nie vreemdelinge buite laat slaap nie, ek het my deur oopgemaak vir mense wat by my huis verbygekom het.

33Ander mense probeer wegsteek wanneer hulle verkeerd gedoen het, ek het dit nie gedoen nie.

34Ek was nie bang vir wat mense sal sê nie, ek het nie geskrik omdat ander families miskien kon dink dat ek nie belangrik is nie. Ek het nie stilgebly en in die huis gebly nie.

35Ek wens dat iemand na my wou luister! Ek teken my naam, ek sê dat ek die waarheid gepraat het. Die Almagtige moet my nou antwoord. Die persoon wat my wil beskuldig, moet skryf wat ek gedoen het.

36Ek sal die dinge wat hy skryf, vir almal wys, ek sal dit op my skouers dra en op my kop.

37Ek sal elke ding sê wat ek gedoen het, ek sal voor die persoon staan soos 'n leier wat vir niks bang is nie.

38Ek het in grond gewerk, ek het dit geploeg, maar ek het betaal vir die koring-oes wat ek afgesny het.

39Dit is ander mense se grond, maar hulle het genoeg gekry om te eet, hulle het nie baie swaar gekry nie.

40As ek verkeerd gedoen het aan hulle, dan moes daar dorings en onkruid gegroei het en nie koring en gars nie.” Job het toe klaar gesê wat hy wou sê.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Job 31.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.