Jeremiah 6
1 Die Here sê: “Mense van Benjamin, julle moet vlug uit Jerusalem. Julle moet die ramshoring blaas in die stad Tekoa en in die stad Bet-Kerem moet julle rook maak om mense te waarsku, want die vyande kom uit die noorde, en dit sal sleg gaan met julle.
2 Jerusalem is soos 'n baie mooi weiveld,
3 die konings kom daarnatoe met hulle soldate, soos die skaapboere kom met hulle troppe skape. Hulle slaan hulle tente op rondom die weiveld en elkeen laat wei sy skape op die plek waar hy kom.
4 Die konings sê: ‘Maak gereed om oorlog te maak teen die stad. Kom ons val hulle aan in die middel van die dag.’ Maar as dit te laat in die dag word, dan sê hulle:
5 ‘Maak gereed, kom ons val hulle aan in die nag en ons verwoes hulle mooi huise.’ ”
6 Ja, die Here wat oor alles regeer, sê: “Kap bome af en gooi grond teen die muur sodat die soldate oor die muur van die stad kan klim. Ek wil die mense in Jerusalem straf, want hulle het aangehou om mense te laat swaarkry.
7 'n Put hou aan om vars water te gee, en net so hou hulle aan om verkeerde dinge te doen. Ek hoor hoe hulle mense laat swaarkry en hoe hulle die mense seermaak, Ek sien altyd net siekte en seerplekke.
8 Ek waarsku julle, mense van Jerusalem, as julle dit aanhou doen, dan sal Ek weggaan van julle en julle land leegmaak, daar sal nie meer mense woon nie.”
9 Die Here wat oor alles regeer, sê: “Dit is nog net die mense van Juda wat lewe, maar die Assiriërs moet nog meer van hulle kom doodmaak. Die Assiriërs moet hulle doodmaak soos mense die ranke in 'n wingerd afsny.”
10 Met wie moet ek praat, wie sal na my luister wanneer ek hom waarsku? Die mense van Jerusalem wil nie hoor wat ek sê nie, hulle wil nie luister nie. Hulle hou nie van die woorde van die Here nie, hulle spot met sy woorde.
11 Maar ek moet vir hulle sê die Here is kwaad, ek kan nie stilbly nie. Die Here het gesê: “Praat met die kinders in die strate, en met die jongmanne waar hulle bymekaar is. Praat met mans en vroue en met oumense, ook met die oumense wat baie oud is.
12 Ander mense sal hulle huise kom vat, en ook hulle grond en hulle vroue. Ja, Ek wil die mense van Jerusalem straf,
13 want almal, kinders en grootmense, wil ryk word van ander mense se goed. Die profete en priesters bedrieg my volk,
14 want hulle dink hulle kan alles regmaak wanneer hulle sê: ‘Daar is vrede, daar is vrede.’ Maar daar is nie vrede nie.
15 Hulle het slegte dinge gedoen wat Ek haat, maar hulle het nie skaam geword nie, hulle is nie jammer nie. Daarom sal hulle ook sterf in die oorlog. Ek sal hulle straf, en hulle sal sterf.” Dit het die Here gesê.
16 Die Here het gesê: “Wanneer julle sien daar is meer as een pad waar julle kan loop, en julle vra waar die ou paaie is, dan moet julle die regte pad kies en daarop loop. Dan sal dit goed gaan met julle. Maar die mense van Jerusalem het gesê: ‘Nee, ons sal nie op daardie pad loop nie.’
17 En wanneer Ek mense vir julle laat wagstaan, dan moet julle luister wanneer die ramshoring blaas. Maar die mense van Jerusalem het gesê: ‘Nee, ons sal nie luister nie.’
18 Daarom, volke, julle moet luister, en julle, my volk wat tussen die ander volke is, julle moet weet,
19 en almal in die land, julle moet luister: Ek sal nou hierdie volk straf. Hulle het planne gemaak om slegte dinge te doen, en nou sal slegte dinge met hulle gebeur, want hulle het nie geluister na wat Ek gesê het nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek vir hulle leer, is nie belangrik nie.
20 Julle bring vir My wierook uit die land Skeba, julle bring kalmoes uit 'n ver land, maar dit beteken vir My niks. Ek hou nie van julle brand-offers nie, Ek wil nie offers van julle hê nie.”
21 Daarom, die Here sê: “Ek sal nou dinge laat gebeur wat hierdie volk sal laat sterf. Pa en seun, buurman en vriend sal saam sterf.”
22 Die Here sê: “Daar sal nou 'n volk kom uit 'n land in die noorde. Dit is 'n groot volk wat uit 'n ver land sal kom.
23 Elkeen het 'n pyl en boog en 'n spies in sy hand. Hulle is wrede mense, hulle is vir niemand jammer nie. Wanneer hulle skree, dan is dit soos die see wat hard raas. Hulle ry op perde en hulle is gereed om oorlog te maak teen julle, mense van Sion.”
24 Die mense van Jerusalem het gesê: “Toe ons hoor hierdie vyande kom, het ons groot geskrik, ons was so bang soos 'n vrou voor sy 'n baba kry.
25 Julle moenie uitgaan uit die stad nie, julle moenie op die paaie loop nie, want die vyande kom met hulle swaarde, en hulle sal oral wees.
26 My volk, julle moet rouklere aantrek en op die ashoop rondrol. Julle moet huil en treur soos mense treur wanneer hulle enigste kind gesterf het. Julle moet rou, want die vyande kom vinnig, en hulle sal alles verwoes.”
27 Die Here het vir my gesê: “Ek het jou gestuur om my volk te toets soos 'n mens metaal smelt en toets, Ek het jou sterk gemaak sodat jy sal kyk wat hulle doen en sodat jy hulle sal toets.
28 Hulle is almal hardkoppige en opstandige mense wat sleg praat van ander mense. Hulle is oneerlik wanneer hulle moet oordeel. Hulle is so hard soos brons en yster.
29 Wanneer die blaasbalk die vuur warm blaas, dan moet die lood uitsmelt, maar dit gebeur nie met my volk nie, die slegte metaal smelt nie uit nie.
30 Hierdie volk is soos silwer wat 'n mens moet weggooi. Die mense sê hulle is so, want die Here het hulle weggegooi.”