Bible

Engage

Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 31

:
Afrikaans - ABA
1 Die Here sê: “Daardie dag sal Ek die God wees van al die Israeliete, en hulle sal my volk wees.”
2 Die Here sê: “'n Volk wat nie in 'n oorlog gesterf het nie, het genade ontvang in die woestyn. Israel sal kom en hulle sal veilig woon.”
3 Die Here het gekom na sy volk wat ver van Hom is. Die Here het gesê: “Ek was lief vir julle en Ek sal aanhou om lief te wees vir julle. Julle behoort aan My, daarom hou Ek julle vas.
4 Mense van Israel, julle sal weer kinders kry, Ek sal vir julle kinders gee. Julle sal weer tamboeryne dra en uitgaan om te dans saam met die ander mense wat bly is.
5 Julle sal weer wingerde plant op die berge van Samaria. Die boere sal dit plant en hulle sal eerste van die druiwe eet.
6 Ja, die dag het gekom, die wagte op die berge van Samaria sal skree en sê: ‘Kom ons gaan na Sion, na ons God die Here toe.’
7 Ja, die Here sê: “Julle moet bly wees en sing, julle moet juig oor Jakob, die hoof van die volke. Julle moet hard sing en die Here prys sodat die mense dit kan hoor. Julle moet sê: ‘Here, red asseblief u volk, red die mense van Israel wat nog lewe.’
8 Ek sal my volk nou bring uit die land in die noorde, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ver plekke op die aarde. Daar sal blinde en kreupel mense tussen hulle wees, en ook vroue wat babas verwag en vroue wat besig is om babas te kry.
9 Hulle sal huil en kom bid dat Ek hulle moet help, en Ek sal hulle lei, Ek sal hulle op 'n gelyk pad bring, by waterstrome. Hulle sal nie op die pad struikel en val nie. Ek het 'n Vader geword vir Israel, Efraim is my oudste seun.”
10 Volke, julle moet hoor wat die Here sê, julle moet dit vertel in die lande ver langs die see, julle moet sê: “Hy wat die Israeliete gejaag het na al die kante toe, Hy sal hulle bymekaarmaak en Hy sal hulle oppas soos 'n herder die skape oppas wat aan hom behoort,
11 want die Here het die nageslag van Jakob losgekoop en Hy het hulle vrygemaak van iemand wat sterker was as hulle.
12 Die Israeliete sal kom en sing op die hoë Sionsberg. Hulle sal bly wees oor die goeie dinge wat die Here gee, oor die koring en die wyn en die olyf-olie, en oor die lammers en die kalwers. Hulle sal self wees soos tuine met baie water, hulle sal nie meer dors word nie.
13 Dan sal die jong vroue weer bly wees en dans, en die jongmans en die ou mans sal saam met hulle dans. Ek sal hulle rou verander, en hulle sal vrolik wees, Ek sal hulle lewe verander, hulle was hartseer, maar Ek sal hulle bly maak.
14 Ek sal die priesters wat nou honger is, lekker laat eet. Ek sal my volk genoeg laat eet van die goeie dinge wat Ek sal gee.” Dit het die Here gesê.
15 Die Here sê: “Die mense hoor iets in die stad Rama, hulle hoor dat iemand kla en baie hartseer huil. Dit is Ragel wat huil oor haar kinders, sy wil nie die mense moet haar troos nie, sy huil oor haar kinders, want hulle is weg.”
16 Die Here sê: “Jy moenie aanhou huil nie, want Ek sal vir jou iets gee omdat jy dit alles gedoen het.” Dit die Here. “Jou kinders sal terugkom uit die vyand se land.
17 En jy sal weet dat dit later goed sal gaan met jou, jou kinders sal terugkom na hulle land.” Dit die Here.
18 Ek, Jeremia, het iets gehoor, dit is seker: dit is Efraim wat soebat en sê: “U het my geslaan, ek het slae gekry soos 'n kalf wanneer iemand hom mak wil maak. Bring my terug na U toe, en laat my terugkom, want U is my God die Here.
19 Ek vra dit, want nadat ek weggegaan het van U, was ek jammer daaroor. Ek weet nou beter en ek slaan myself op my heupe, want ek is skaam, ek voel sleg, ek is skaam oor alles wat ek gedoen het toe ek jonk was.”
20 “Die mense sal Efraim is my kind, Ek is die liefste vir hom, Ek hou die meeste van hom, want elke maal wanneer Ek teen hom praat, dan dink Ek nog aan hom en dan word Ek baie hartseer en ontsteld. Daarom sal Ek jammer wees vir hom en Ek sal hom help, Ek sál dit doen.” Dit het die Here gesê.
21 Julle moet klippe opmekaar pak, julle moet padtekens maak, julle moet goed kyk waar julle moet loop op die pad waarop julle weggegaan het. Israeliete, julle moet terugkom na hierdie stede van julle.
22 Hoe lank wil julle nog wag en twyfel? Julle is mense wat aanhou weggaan. Want die Here het iets nuut laat gebeur op die aarde: Soos 'n vrou wat na haar man toe draai wanneer hulle dans, so sal die Israeliete die Here soek en terugkom na Hom toe.
23 Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Wanneer Ek dit weer goed laat gaan met die mense van Juda, dan sal hulle in die land Juda en in sy stede weer sê: Gewyde berg, die Here sal jou seën, jy is die berg waar die mense woon wat reg doen.’
24 Al die mense van Juda en sy stede sal saam in Jerusalem woon, die mense wat in die grond werk en ook die wagters wat met hulle skape en bokke na ander plekke trek.
25 Ja, Ek gee nuwe krag vir elkeen wat moeg is, Ek laat elkeen wat honger is, meer as genoeg kos kry.
26 “Dit is hoekom Ek wakker geword het en gesien het dat die tyd gekom het om mense te red.”
27 Die Here sê: “Die tyd sal kom wanneer Ek die mense van Israel en die mense van Juda baie sal laat word. Hulle en hulle diere sal baie word.
28 Voorheen wou Ek hulle uitruk en afbreek, omgooi en verwoes en Ek wou dit sleg laat gaan met hulle. Maar nou wil Ek hulle bou en plant.
29 Voorheen het die mense gesê: ‘Die pa’s het suur druiwe geëet en daarom het die kinders se tande stomp geword.’ Hulle sal nie meer so nie.
30 Elke mens sal sterf oor die sondes wat hy self gedoen het, elkeen wat suur druiwe eet, se eie tande sal stomp word.”
31 Die Here sê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek 'n nuwe verbond sal maak met die mense van Israel en die mense van Juda.
32 Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het hulle hande gevat om hulle uit die land Egipte te bring. Hulle het my verbond gebreek, maar hulle behoort nog aan My.”
33 Die Here sê: “Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal wees: Ek sal my wette op hulle harte skryf sodat dit binne-in hulle sal wees. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.
34 Hulle sal nie meer vir mekaar leer of sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal sal My ken, onbelangrike en belangrike mense, want Ek sal hulle sondes vergewe, die dinge wat hulle verkeerd gedoen het, Ek sal nie meer dink aan hulle sondes nie.”
35 Die Here gee die son om in die dag lig te gee, en in die nag gee Hy die sterre en die maan om lig te gee. Hy roer die see sodat die branders wild word. Sy Naam is die Here wat oor alles regeer.
36 Die Here sê: “Hierdie dinge sal altyd weer gebeur, dit sal nooit verdwyn nie. So sal die nageslag van Israel ook nooit ophou om vir altyd 'n volk te wees nie.”
37 Die Here sê: “Niemand kan die hemel daarbo meet nie, en niemand kan kyk of die fondamente van die wêreld reg is nie. So sal Ek ook nooit die hele nageslag van Israel los oor alles wat hulle gedoen het nie.”
38 Die Here sê: “Die tyd sal nou kom wanneer hulle die stad van die Here weer sal bou, van die Gananel-toring tot by die Hoek-poort,
39 en van die Hoek-poort sal hulle reguit meet tot op die Gareb-heuwel, en dan sal hulle draai na Goa.
40 Die hele vallei waar hulle mense begrawe het en waar hulle die altaar-as weggegooi het en die hele stuk grond tot teen die Kedron-vallei sal gewy wees aan die Here, en ook die stuk grond tot by die Perde-poort, oos van die poort. Niemand sal weer die stad verwoes en sy mure afbreek nie.”