Jeremiah 30
1 Jeremia het gehoor die Here praat met hom.
2 Die Here, die God van Israel, het gesê: “Jy moet alles wat Ek vir jou sê, in 'n boek skryf.
3 Want die tyd sal kom wanneer Ek dit beter sal laat gaan met my volk Israel en met Juda. Dan sal Ek hulle terugbring na die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het en waar hulle gaan woon het.
4 “Hier is nou die woorde wat die Here vir Israel en Juda sê.
5 Ja, dit het die Here gesê. “Die mense van Israel en Juda sê: ‘Ons het iets gehoor wat ons groot laat skrik het, ons is bang, daar is nie vrede nie.’
6 “Julle kan vir almal vra en rondkyk. Kan 'n man 'n baba kry? Nee, hy kan nie. “Maar hoekom sien Ek dat elke man met sy hande op sy maag staan soos 'n vrou wat 'n baba kry? Hoekom is sy gesig bleek?
7 “Dit gaan baie sleg met die mense van Israel. Daar was nog nooit so 'n dag nie, hulle kry swaar, maar Ek sal hulle red.”
8 Die Here wat oor alles regeer, sê: “Daardie dag sal Ek die juk van hulle nekke afhaal en Ek sal die bande breek. Hulle sal nie meer vir ander mense moet werk nie.
9 Hulle sal hulle God die Here dien en hulle sal ook hulle koning Dawid dien wat Ek sal kies en aanstel om oor hulle te regeer.”
10 Die Here sê: “En julle, my dienaars, nageslag van Jakob, julle moenie bang wees nie. Mense van Israel, julle moenie skrik nie, want Ek sal julle red daar ver waar julle is. Ek sal julle nageslag red uit die land waar hulle gevangenes is. Die nageslag van Jakob sal terugkom en veilig wees en niks sal hulle pla nie, niemand sal hulle skrikmaak nie.”
11 Die Here sê: “ Ja, Ek is by julle om julle te red. Ek sal al die volke laat verdwyn, al die volke na wie toe Ek julle gejaag het, maar vir julle sal Ek nie laat verdwyn nie. Ek sal julle straf, Ek moet dit doen, Ek kan nie sê julle is onskuldig nie.”
12 Ja, die Here sê: “Julle seerplekke word nie gesond nie, julle sal miskien daarvan sterf.
13 Almal sê julle is skuldig, niemand help julle nie, julle seerplekke word nie gesond nie.
14 Almal wat lief was vir julle, het vir julle vergeet, hulle soek julle nie. Want Ek het julle geslaan soos 'n vyand, Ek het julle wreed gestraf omdat julle so baie verkeerde dinge gedoen het, omdat julle sondes so baie is.
15 Hoekom skree julle en vra iemand moet julle help? Hoekom word julle nie gesond nie? Ek het hierdie dinge aan julle gedoen omdat julle so baie verkeerde dinge gedoen het, omdat julle sondes so baie is.
16 Daar was mense wat vir julle opgeëet het, maar ander mense sal húlle nou op-eet. Ander mense sal al julle vyande vang en wegvat uit hulle land. Ander mense sal die goed vat van almal wat julle goed gevat het. Ek sal almal wegvat wat vir julle weggevat het.”
17 Die Here sê: “Ja, Ek sal nuwe vel laat groei oor julle seerplekke en Ek sal julle gesond maak waar julle seergekry het.” Die Here sê: “Ja, mense van Sion, die mense het gesê die ander mense het julle alleen gelos, niemand soek julle nie.
18 Maar Ek sal dit weer goed laat gaan met die tente van Jakob, Ek sal weer jammer wees vir hulle woonplekke. Hulle sal die stad weer bou op die heuwel wat nou net klippe is, en die paleis sal weer staan waar hy moet staan.
19 Hulle sal sing en lag, almal sal dit hoor. Ek sal hulle baie laat word, hulle sal nie min mense wees nie. Ek sal sê dat mense hulle moet respekteer, hulle sal nie onbelangrik wees nie.
20 Die mense van Jerusalem sal wees soos hulle voorheen was, hulle almal saam sal My dien, en Ek sal almal straf wat vir hulle verdruk.
21 Een van hulle sal hulle leier word en hy sal oor hulle regeer. Wanneer Ek hom laat nader kom na My toe, dan sal hy na My toe kom en My dien. Want niemand mag self nader kom na My toe nie, Ek moet vir hom sê om te kom.” Dit sê die Here.
22 “Ja, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.
23 Julle moet dit weet: Die Here sal 'n stormwind stuur, daar sal 'n wind kom wat almal sal saamsleep, en dit sal waai oor die mense wat verkeerd doen.
24 Die Here is kwaad, en Hy sal aanhou om kwaad te wees totdat Hy gedoen het wat Hy besluit het. Julle sal dit later goed verstaan.”