Isaiah 66
1 Die Here sê: “Wanneer Ek in die hemel op my troon sit, dan is my voete op die aarde. Dink julle dat julle vir My 'n huis kan bou waar Ek kan woon?
2 Ek het alles gemaak met my eie hande, en toe was dit daar.” Dit sê die Here. “Die mense wat hulleself nie kan help nie, is belangrik vir My. Hulle is mense wat weet dat hulle nie belangrik is nie, hulle bewe wanneer Ek praat.
3 Julle offer bulle vir My, maar julle vermoor ook mense. Julle offer lammers vir My, maar julle offer ook honde vir die afgode. Julle bring koring-offers vir My, maar julle offer ook varkbloed vir die afgode. Julle offer wierook vir My en julle prys My, maar julle prys ook die afgode. Julle het besluit om te doen wat júlle wil doen, julle hou van die slegte dinge wat julle doen.
4 Ek het ook besluit, Ek het besluit om julle te straf en julle baie swaar te laat kry. Ek doen dit omdat Ek julle geroep het, maar julle het nie geantwoord nie. Julle was nie gehoorsaam toe Ek gepraat het nie. Julle het dinge gedoen waarvan Ek nie hou nie.”
5 Julle wat bewe wanneer die Here praat, julle moet luister na wat die Here sê: “Party van julle eie mense haat julle en hulle wil julle nie ken nie omdat julle My dien. Hulle sê: ‘Die Here moet vir ons wys Hy is God, sodat ons kan sien hoekom julle so bly is.’ Maar die mense wat dit sê, sal jammer wees.”
6 Luister hoe raas dit in die stad en in die paleis. Dit is die Here wat sy vyande straf oor die dinge wat hulle gedoen het.
7 Dink julle 'n vrou kan 'n baba kry en nie geboortepyne hê nie?
8 Nee, wie het al gehoor dat so iets gebeur? Dit het nog nooit gebeur nie. 'n Land en 'n volk begin nie lewe in een dag nie. Maar Sion het nog net begin geboortepyne kry, toe was haar kinders klaar gebore.
9 Jou God die Here sê: “Al die kinders kom van My af, dit is Ek wat besluit dat 'n vrou kinders sal kry.
10 Julle wat lief is vir Jerusalem, julle almal wat oor die stad huil en treur, julle moet vrolik en bly wees,
11 want Jerusalem is soos 'n vrou wat haar kinders aan haar borste laat drink en hulle veilig laat voel. Sy sal julle laat drink en laat lewe, want sy is baie sterk.”
12 Ja, die Here sê: “Ek sal kom, Ek sal dit goed laat gaan en al die duur en mooi dinge van die volke vir Jerusalem gee. Dit sal soos 'n vol rivier na die stad kom. Jerusalem sal vir julle wees soos 'n ma wat haar kinders laat drink en hulle dra en hulle op haar skoot laat sit.
13 Soos 'n seun veilig voel by sy ma, so sal Ek julle veilig laat voel. Julle sal veilig wees in Jerusalem.
14 Julle sal sien dit gebeur met julle en julle sal bly wees, julle sal nuwe lewe kry soos groen gras.” Almal sal sien die Here is by sy dienaars, maar Hy is kwaad vir sy vyande.
15 Ja, julle moet kyk, die Here sal kom. Hy sal kom, Hy sal sy oorlogkarre bring en Hy sal kom, Hy sal kom in vuur en stormwinde. Hy is kwaad en Hy sal sy vyande straf en hulle brand.
16 Die Here sal kom in vuur om al die mense te straf. Hy sal hulle doodmaak met sy swaard. Hy sal baie mense laat sterf.
17 Die Here sê: “Die mense sal sterf, al die mense wat hulleself reinig en wat gereedmaak om ná mekaar in die tuine te gaan offer, al die mense wat varkvleis eet en akkedisse en muise.
18 Ek weet wat hulle doen en wat hulle dink. Ek sal kom en al die volke bymekaarmaak. En hulle sal kom en hulle sal weet dat Ek God is.”
19 “Ek sal 'n teken vir hulle gee, en Ek sal party van hulle wat oorgebly het, stuur na die volke wat ver is en wat nog nie gehoor het van My nie, die volke wat nie weet dat Ek God is nie. Hulle sal vir die mense van die lande Tarsis en Pul vertel dat Ek God is, ook vir die mense van Lud wat so goed met 'n pyl en boog kan skiet, en ook vir die mense van Tubal en Griekeland.
20 Hulle sal julle familie bring uit al die volke. Hulle sal kom op perde en oorlogkarre en dra-stoele en muile en kamele. Hulle sal kom na my gewyde berg, na Jerusalem. Hulle sal 'n present vir My wees, soos die koring-offer wat die Israeliete na die tempel bring in 'n rein skottel.
21 Ek sal party van hulle kies om my priesters en Leviete te wees.” Dit sê die Here.
22 Die Here sê ook: “Julle nageslag en julle naam sal altyd by My wees, soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek sal maak.
23 Al die mense sal elke Nuwemaan-fees en elke Sabbatdag kom om voor My te buig.
24 Wanneer hulle weer uit die stad gaan, dan sal hulle die lyke sien van die mense wat opstandig was teen My. Die wurms sal aanhou om die lyke te vreet, en die vuur sal aanhou om hulle te brand. Almal wat hulle sien, sal bewe en bang wees.”