Isaiah 63
1 Wie is hierdie persoon wat uit die land Edom kom, uit die stad Bosra? Wie se klere is so vol rooi kolle? Wie is dit wat die klere van 'n koning dra en wat hier aankom en lyk of hy baie sterk is? Die Here het gesê: “Dit is Ek wat kom sê Ek het die oorlog gewen en Ek sal my mense red.”
2 Maar hoekom is u klere so rooi? Hoekom lyk dit of U druiwe getrap het in 'n parskuip?
3 Die Here het gesê: “Ek het alleen druiwe getrap in die parskuip, daar was niemand saam met My nie. Ek was kwaad en Ek het die volke getrap, Ek het hulle plat getrap, en hulle bloed het op my klere gespat. My klere het vol bloed geword.
4 Dit is nou die regte tyd. Ek wou my vyande straf en my volk vrymaak.
5 Ek het gekyk en Ek was verbaas, daar was niemand om My te help nie. Toe het Ek dit self gedoen. Ek was kwaad en Ek het dit self gedoen.
6 Ek was kwaad en Ek het volke plat getrap, Ek het hulle doodgetrap en hulle bloed in die grond laat wegvloei.”
7 Ek wil vertel wat die Here gedoen het omdat Hy lief was vir ons, ek wil Hom prys oor wat Hy gedoen het. Ek wil praat oor alles wat die Here vir ons gedoen het. Hy het aangehou om goed te doen aan die volk Israel, Hy het dit gedoen omdat Hy jammer was vir hulle en baie lief was vir hulle.
8 Die Here het gesê: “Regtig, hulle is my volk, hulle is kinders wat nie vir My sal lieg nie.” Daarom het Hy hulle gered,
9 elke maal wanneer dit sleg gegaan het met hulle. Hy was nie hulle vyand nie, Hy was 'n Engel, en Hy self het hulle gered. Hy het hulle vrygemaak omdat Hy lief was vir hulle en jammer was vir hulle. Hy het hulle opgetel en gedra, elke dag, lank gelede.
10 Maar hulle was opstandig, hulle het sy Heilige Gees hartseer gemaak. Toe het die Here verander. Hy het hulle vyand geword en Hy het teen hulle oorlog gemaak.
11 Hy het gedink aan lank gelede, aan Moses en sy volk. Die Here het sy volk deur die see gebring saam met Moses, die leier van sy volk. Die Here het sy Heilige Gees saam met hulle laat gaan,
12 Hy het sy krag vir Moses gegee en Hy het die water voor hulle oopgemaak. Die mense sal dit altyd onthou.
13 Die Here het sy volk deur die diep see laat loop. Nie een se voet het vasgesit nie, hulle het geloop soos 'n perd op droë grond.
14 Die Gees van die Here het ons tot by ons woonplek gebring. Hy het ons gelei soos beeste wat ondertoe loop in 'n vallei. Die mense sal dit altyd onthou. Maar waar is die Here nou?
15 Here in die hemel, kyk na ons uit u gewyde en pragtige woonplek. Is U nie meer lief vir ons nie? Is U nie meer sterk nie? Is U nie meer bekommerd oor ons nie? Is U nie meer jammer vir ons nie?
16 Ja, U is ons Vader. Abraham of Jakob is nie ons vader nie. Hulle weet nie van ons nie. Here, U is ons Vader, U is nog altyd ons Bevryder, dit is u Naam.
17 Here, hoekom laat U ons weggaan van u pad? Hoekom maak U ons hardkoppig sodat ons U nie dien nie? Kom terug na ons toe, na u dienaars, die stamme wat aan U behoort.
18 U gewyde volk het net 'n kort tydjie in die land gewoon. Toe het ons vyande gekom en hulle het u tempel verwoes.
19 Ons het geword soos mense oor wie U nooit regeer het nie, soos mense wat nie aan U behoort nie.