Isaiah 61
1 Dit is die Gees van die Here wat my lei, Hy wat Here is, want die Here het my gesalf. Hy het my gestuur om goeie nuus te bring vir mense wat swaarkry, om mense te troos wat huil en treur, om vir gevangenes wat geboei is, te sê hulle is vry, hulle mag uitgaan.
2 Ek moet vir almal sê dit is nou die tyd wanneer die Here goed sal wees vir ons. Ons God sal sy vyande straf maar Hy sal dit goed laat gaan met almal wat nou huil en treur.
3 Hy sal alles verander vir die mense van Sion wat nou treur. Daar is nou as op julle koppe, maar julle sal blomme op julle koppe hê. Julle treur nou, maar julle sal bly wees en julle sal olyf-olie aan julle smeer. Julle voel nou baie hartseer, maar julle sal sing en fees-klere aantrek. Ander mense sal sê julle, die mense van Sion, is bome wat regtig is soos die Here wil hê hulle moet wees. Die Here het hulle geplant om Hom te eer.
4 Julle sal die stede weer bou, die stede wat nou net hope klippe is, die plekke wat lank gelede verwoes is en wat baie jare lank so stukkend gelê het.
5 Mense uit ander lande sal vir julle werk. Hulle sal julle skape en bokke oppas en in julle lande en wingerde werk.
6 Julle self sal priesters van die Here wees, mense wat vir ons God werk. Die duur en mooi dinge van die volke sal aan julle behoort, en julle sal dit geniet en lekker eet.
7 Ander mense het julle verneder en hulle het gesê julle beteken niks, maar julle sal twee maal meer kry as wat julle voorheen gehad het, en mense sal sê julle is baie belangrik. Julle sal in julle land twee maal meer hê as ander mense en julle sal altyd bly wees.
8 Die Here sê: “Ek, die Here, is lief vir wat reg is, maar Ek haat mense wat ander mense se goed steel en wat nie reg doen aan hulle nie. Ek sal alles vir my volk gee wat Ek vir hulle belowe het, Ek sal 'n verbond met hulle maak, 'n verbond wat altyd sal aanhou.
9 Die ander volke sal die nageslag van my volk ken. Almal wat die mense van hierdie geslag sien, sal weet die Here seën hulle.”
10 Die Here het my baie bly gemaak, my God het my laat juig. Hy het my gered en gesê ek mag weer aan Hom behoort. Hy het vir my fees-klere aangetrek, ek is soos 'n bruidegom wat 'n kroon dra soos 'n priester, ek is soos 'n bruid wat haar juwele aansit.
11 Daar kom nuwe bome uit die aarde, daar groei nuwe plante in 'n tuin, so sal die Here alles laat groei wat reg is. Ja, Hy sal al hierdie dinge doen. Al die volke sal hoor hoe prys sy mense Hom.