Isaiah 41ABA

1Die Here sê: “Al die mense wat woon in die ver lande by die see, al die volke, julle moet stilbly en julle moet luister na My! Julle moet gereedmaak en nader kom en praat. Ons moet saam praat en hoor wie is reg.

2Wie het die man uit die ooste laat kom, die man wat al die volke en die konings oorwin? Hulle val voor sy swaard en voor sy boog, soos stof of soos kaf wat wegwaai.

3Hy jaag die volke, niemand stop hom nie, sy voete raak nie aan die grond nie.

4Wie het dit laat gebeur? Wie het van die begin af gesê wat in die wêreld moet gebeur? Dit is Ek, die Here. Ek was eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, dan sal Ek nog die Here wees.

5Al die mense wat in die ver lande langs die see woon, al die mense op die aarde, het gesien wat gebeur. Hulle het bang geword en hulle het nader gekom.

6Hulle help mekaar en sê vir mekaar: ‘Ons moet sterk wees.’

7Die manne wat beelde maak, sê vir mekaar: ‘Ons het goeie werk gedoen!’ En hulle maak die beeld sterk en hulle slaan die beeld vas met spykers sodat dit nie omval nie.”

8En Ek sê vir julle: “My dienaars, mense van Israel, nageslag van Jakob wat Ek gekies het, nageslag van my vriend Abraham:

9Ek het Abraham uit 'n ver land laat kom en Ek het vir hom gesê: ‘Jy is my dienaar, Ek het jou gekies en jou nie vergeet nie.’

10Julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle. Julle moenie bang rondkyk nie, want Ek is julle God. Ek sal julle sterk maak en julle help, Ek sal julle vashou met my sterk hand.

11Kyk, almal wat iets sleg wil doen aan julle, sal teleurgesteld wees. Hulle sal nie weet wat om te doen nie. Die mense wat wil hê dit moet sleg gaan met julle, sal word soos niks, hulle sal sterf.

12Die mense wat oorlog maak teen julle, sal word soos niks, julle sal hulle soek en julle sal hulle nie kry nie.

13Ja, Ek, julle God die Here, Ek maak julle sterk, Ek sê vir julle: Moenie bang wees nie, Ek help julle.

14“Julle is so swak soos 'n wurm, julle is min, maar julle moenie bang wees nie, Ek help julle.” Dit sê die Here, die Heilige God van Israel.

15“Kyk, Ek het julle soos 'n nuwe dors-slee gemaak, 'n dors-slee wat skerp ysters het. Julle sal berge en heuwels fynmaal en julle sal dit soos kaf maak.

16Julle sal hulle in die lug opgooi, en die stormwind sal hulle wegwaai. Maar julle sal juig omdat die Here julle God is, julle sal die Heilige God van Israel prys.”

17“Die mense wat hulleself nie kan help nie en wat arm is, soek water, maar daar is nie water nie. Hulle tonge word droog, want hulle is dors. Ek, die Here, sal vir hulle gee wat hulle vra, Ek, die God van Israel, sal hulle nie alleen los nie.

18Ek sal die water in riviere laat vloei en Ek sal fonteine oopmaak op die plekke waar daar nou niks plante is nie. Ek sal die droë woestyn verander in 'n plek waar daar baie water is en waar riete groei.

19Ek sal bome laat groei in die woestyn: sederbome, doringbome, mirteboompies en olienhout, jenewerbome, essenhoutbome en sipresbome.

20Dan sal die mense wat dit sien, weet dat Ek, die Here, dit gedoen het, Ek, die Heilige God van Israel.”

21Die Here, die Koning van Jakob, sê vir die gode: “Sê vir Ons wat julle is. Bewys vir Ons dat julle gode is.

22Sê vir Ons wat later sal gebeur, of sê vir Ons hoekom die dinge gebeur het wat voorheen gebeur het. Sê dit vir Ons sodat Ons daaroor kan dink en kan weet wat later sal gebeur.

23Sê vir Ons wat later sal gebeur, sodat Ons kan weet julle is gode. Ja, doen enige iets, doen goed of doen sleg, sodat ons dit kan sien en bang kan word vir julle.

24Maar julle is niks en julle kan niks doen nie. Die mense wat sê julle is hulle gode, doen baie verkeerd.

25“Ek het 'n man uit die noorde en die ooste laat kom. Hy kom en hy aanbid My. Hy oorwin die mense wat regeer en hy trap op hulle soos 'n pottebakker wat op klei trap.

26Wie het voor daardie tyd gesê dit sal gebeur sodat Ons dit kon weet en kon sê hy het reg gepraat? Niemand het dit gesê nie, nie een van julle het 'n woord gepraat nie, niemand het gehoor julle sê iets nie.

27Dit is Ek wat eerste vir Sion, vir Jerusalem, gesê het: ‘Kyk, julle mense kom terug, Ek bring vir julle die goeie nuus.’

28Ek het gewag dat die gode moet praat, maar nie een het gepraat nie. Daar was nie een wat iets geweet het sodat Ek vir hom kon vra en Hy kon antwoord nie.

29Nie een van die gode is regtig 'n god nie, hulle kan niks doen nie, en hulle beelde beteken niks.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 41.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.