Isaiah 35
1 Die droë woestyn sal bly wees en juig, daar sal blomme groei in die woestyn.
2 Daar sal oral blomme wees, die woestyn sal juig, meer nog, hy sal sing. Die woestyn sal so mooi wees soos die Libanon-berg of soos die Karmel-berg en die Saron-vlakte. Almal sal sien dat die Here die Koning is, hulle sal sien dat ons God kom, hulle sal die lig rondom Hom sien.
3 Mense se hande hang pap en hulle knieë bewe, maar julle moet hulle sterk maak en help.
4 Sê vir die mense wat moedeloos is: “Julle moet sterk wees, julle moenie bang wees nie. Kyk, julle God sal kom, Hy kom om die vyande te straf omdat hulle slegte dinge aan julle gedoen het. Julle God kom en Hy sal julle red.”
5 Dan sal die blinde mense weer kan sien, en die dowe mense sal weer kan hoor.
6 Dan sal lam mense soos 'n takbok spring, en stom mense sal sing, want in die woestyn sal daar fonteine wees, en riviere wat vol water is.
7 Grond wat droog geword het in die son, sal vol water wees. Daar sal fonteine wees waar daar niks water was nie. Daar sal gras, riete en biesies groei waar daar net jakkalse was.
8 Daar sal 'n pad wees, en die mense sal die pad noem “ Gewyde Pad.” Onrein mense en dwase sal nie op hierdie pad loop nie, net mense wat reg lewe, sal daar loop.
9 Leeus en ander wilde diere sal nie op die pad loop nie. Die Here het mense gered, en net hulle sal daar loop.
10 Die Here het sy mense vrygemaak, en hulle sal sing wanneer hulle in Sion kom. Hulle sal vrolik en bly wees, hulle sal nie swaarkry en huil nie.