Isaiah 29
1 Die Here sê: Dit sal sleg gaan met Jerusalem, die stad waar Ek wil vuurmaak, die stad waar Dawid sy tente opgeslaan het. Die jare kom en die jare gaan verby, en die mense in die stad hou aan om fees te vier.
2 Maar Ek sal die stad laat swaarkry, en die mense sal huil en treur. Die stad sal vir My die plek wees waar Ek vuurmaak.
3 Ek sal die tente van my soldate opslaan rondom die stad, en Ek sal torings bou en groot hope grond teen die stad se mure gooi sodat die soldate oor die muur in die stad kan kom.
4 Die vyande sal die stad verwoes. Die mense in die stad sal sterf. Hulle sal sag uit die grond praat soos 'n spook wat fluister.
5 Die wrede mense wat ander mense verdruk het in die stad, sal soos fyn stof word, soos kaf wat wegwaai. Dit sal skielik gebeur, so vinnig soos 'n mens sy oog knip.
6 Dit is die Here wat dit sal doen, die Here wat oor alles regeer. Hy sal die mense in die stad straf. Daar sal donderweer wees en aardbewings. Dit sal raas. Daar sal storms en donderweer wees, en daar sal baie vure wees.
7 Die mense in die stad sal dink hulle droom wanneer die baie volke Jerusalem aanval, wanneer hulle van al die kante die sterk mure van die stad aanval.
8 Maar dit sal sleg gaan met hierdie baie volke wat die Sionsberg aanval. Dit sal met hulle gaan soos met 'n man wat honger en dors is: Hy droom dat hy eet, maar wanneer hy wakker word, dan is hy nog honger. Hy droom dat hy water drink, maar wanneer hy wakker word, dan is hy nog dors en swak.
9 Leiers van Jerusalem, julle weet nie wat om te sê nie, julle is stom. Julle weet nie wat julle sien nie, julle is blind. Julle het nie wyn of bier gedrink nie maar julle is dronk en julle loop val-val.
10 Julle is so, want die Here het julle gemaak soos mense wat slaap. Hy het julle oë en julle koppe toegemaak. Julle oë was die profete en julle koppe was die sieners.
11 Nou kan julle nie verstaan wat die Here vir julle sê nie. Dit is soos 'n boek wat toegemaak en verseël is. Jy gee dit vir iemand wat kan lees, en jy sê vir hom: “Lees asseblief wat in die boek geskryf is,” en hy sê: “Ek kan dit nie lees nie, want die boek is verseël.”
12 Of jy gee die boek vir iemand wat nie kan lees nie, en jy sê vir hom: “Lees asseblief,” en hy sê: “Ek kan nie lees nie.”
13 Die Here het gesê: “Hierdie volk kom dien My met hulle mond, met hulle woorde. Hulle eer My met die woorde wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My. Daarom probeer hulle My dien met wette wat mense gemaak het, dit is nie Ek wat daardie wette gemaak het nie.
14 Dit is hoekom Ek nou met hierdie volk iets sal doen wat hulle sal skok. Hulle sal nie weet wat gebeur nie. Die slim mense wat dink hulle weet alles, sal nie verstaan nie.”
15 Dit sal sleg gaan met mense wat dink hulle kan hulle planne wegsteek sodat die Here dit nie uitvind nie. Dit sal sleg gaan met mense wat dinge in die donker doen en wat dink die Here sien hulle nie, hulle dink die Here weet nie wat hulle doen nie.
16 Julle dink verkeerd! Julle dink die pottebakker is die klei. Die kleipot kan nie vir die pottebakker sê: “Jy het my nie gemaak nie, en jy verstaan my nie.”
17 Dit sal nie lank wees nie, dan sal alles verander: Die bome in die Libanon-bos sal vrugtebome word en op die Karmel-berg sal 'n bos bome groei.
18 Daar is mense wat nou doof is, maar daardie dag sal hulle die woorde hoor wat geskryf is in die boek wat verseël was, en die blindes sal kan sien, hulle sal nie meer in die donker wees nie.
19 Die arm mense wat nou swaarkry, sal dan weer bly wees omdat die Here by hulle is, die Heilige God van Israel.
20 Want daar sal nie meer wrede mense wees wat spot en wat aanhou verkeerd doen nie. Hulle sal sterf.
21 Dit is die mense wat sê iemand wat niks verkeerd gedoen het nie, het verkeerd gedoen. Hulle keer wanneer iemand die mense wil straf wat verkeerd doen, hulle wil mense straf wat reg lewe.
22 Daarom praat die Here met die nageslag van Jakob. Die Here wat vir Abraham gered het, sê: “Die volk Israel sal nie meer skaam wees nie, hulle sal weet wat om te doen.
23 Ja, wanneer hulle sien hoe baie hulle geword het, dan sal hulle my heilige Naam eer. Hulle sal My eer en dien. Ek is die heilige God, die God van Israel.
24 Party mense se koppe is nou deurmekaar, maar hulle almal sal dan verstaan, almal wat nou ontevrede is en kla, sal dan graag wil leer.”