Isaiah 27
1 Daardie dag sal die Here die vinnige slang doodmaak. Hy sal die Leviatan doodmaak, die slang wat rondswem, die monster in die see. Die Here sal sy skerp, groot, sterk swaard vat en Hy sal die slang doodkap.
2 Daardie dag moet julle sing oor die mooi wingerd van die Here, julle moet sing oor sy volk.
3 Ek, die Here, pas my wingerd op, Ek gee die wingerd altyd water. Ek pas die wingerd elke dag en nag op, sodat niemand dit kan verwoes nie.
4 Ek is nie meer kwaad nie, maar wanneer Ek dorings en bossies in my wingerd kry, dan trap Ek self die wingerd plat en Ek steek dit aan die brand, en ook die dorings en bossies.
5 As my volk nie wil hê Ek moet dit doen nie, dan moet hulle vrede maak met My. Hulle moet vrede maak met My en hulle moet in my tempel kom vra dat Ek hulle moet beskerm.
6 Die tyd sal later kom wanneer die mense van Israel soos bome sal wees wat wortels het en wat blomme en vrugte dra. Die vrugte sal baie wees, die aarde sal vol vrugte wees.
7 Die Here het die mense van Israel gestraf, maar Hy het hulle vyande nog meer gestraf. Hy het party van die mense van Israel doodgemaak, maar Hy het nog meer van hulle moordenaars doodgemaak.
8 Die Here straf die mense van Israel op 'n ander manier, Hy het hulle weggestuur uit hulle land. Toe die warm oostewind waai, het die Here hulle weggewaai met 'n sterk wind.
9 Daarom, as die mense van Israel nou wil hê dat die Here hulle sonde moet vergewe, dan moet hulle al die altare stukkend slaan. Hulle moet dit fynslaan soos wanneer 'n mens kalk-klip fynstamp. Daar moenie meer gewyde pale en wierook-altare wees nie.
10 Die mense van Israel moet die altare stukkend slaan, want die stad is nou alleen, die stad wat die sterk mure het. Daar woon nie meer mense nie, dit is so leeg soos die woestyn. Daar wei beeste wat die bossies vreet.
11 Die bome se takke is droog, vroue breek dit af en hulle maak vuur. Dit het gebeur met die mense van Israel. Hulle wou nie lewe soos die Here wou hê nie, daarom was hulle Maker nie jammer vir hulle nie. Hy is nie meer goed vir hulle nie.
12 Maar, mense van Israel, eendag sal die Here julle bymekaarmaak van die Eufraat-rivier tot by Egipte-spruit. Hy sal julle optel soos 'n mens koring-are optel, Hy sal een na die ander optel, nie almal saam nie.
13 Daardie dag sal iemand die groot ramshoring blaas. Al die mense van Israel wat oral in Assirië en Egipte is, sal kom en hulle sal voor die Here buig op die gewyde berg in Jerusalem.