Isaiah 24
1 Die Here sal die aarde verwoes, en dit sal nou gebeur, Hy sal die aarde verwoes, Hy sal dit omgooi, Hy sal die mense op die aarde wegjaag na al die kante toe.
2 Dit sal met al die mense gaan soos met die priesters, dit sal met die slawe en slavinne gaan soos met hulle eienaars. Dit sal met die mense wat goed verkoop, gaan soos met die mense wat goed koop. Dit sal met die mense wat geld geleen het, gaan soos met die mense wat geld vir ander mense geleen het. Dit sal met die mense wat geld skuld, gaan soos met die mense vir wie hulle geld skuld.
3 Die mense sal die land verwoes en hulle sal mekaar se goed vat, want die Here het gesê dit moet gebeur.
4 Die plante op die aarde sal droog word en verlep, die hemel sal droog word saam met die aarde.
5 Die mense in die land het die land ontwy, want hulle het nie gedoen wat die Here wil hê nie. Hulle het die verbond gebreek wat vir altyd moes aanhou.
6 Daarom sal dit sleg gaan met die mense in die land, die Here sal hulle straf. Daarom sal die mense in die land minder word en daar sal min mense oorbly.
7 Die wingerde sal droog word en daar sal nie wyn wees nie. Al die mense sal huil, die mense wat altyd vrolik was nadat hulle wyn gedrink het.
8 Daar sal nie meer vrolike musiek van tamboeryne en liere wees nie. Die mense wat feesgevier het en geraas het, sal stil wees.
9 Hulle sal nie meer wyn drink en sing nie, en die bier sal bitter smaak.
10 Die stad sal net 'n hoop klippe wees, daar sal nie mense woon nie, die huise sal tóé wees, niemand sal daar kan ingaan nie.
11 Op die strate sal die mense huil omdat daar nie wyn is nie. Niemand sal vrolik wees nie, niemand op die aarde sal vrolik wees nie.
12 Alles in die stad sal verwoes wees, die poorte sal stukkend lê.
13 Ja, so sal dit wees tussen die volke op die aarde: Die volke sal min wees. Hulle sal so min wees soos die paar trossies druiwe wat oorbly wanneer mense klaar druiwe gepluk het of soos die paar olywe wat oorbly wanneer die mense klaar olywe afgeslaan het.
14 Die mense wat oorgebly het, sal begin sing, die mense in die weste sal juig omdat die Here Koning is.
15 Daarom sal die mense in die ooste ook die Here eer, die mense in die lande by die see sal die Naam van die Here prys, die Here, die God van Israel.
16 Ons sal hoor die mense sing oral op die aarde. Ons sal hoor hulle prys die Regverdige God. Maar ek, die profeet, sê dit gaan sleg met my, baie sleg. Die mense verraai mekaar, hulle hou nie op om mekaar te verraai nie.
17 Julle wat op die aarde woon, julle sal baie bang word, julle sal in vang-gate val en hulle sal julle met vangnette vang.
18 Wanneer een van julle bang word en vlug omdat die vyande raas, dan sal hy in die vang-gat val, en wanneer hy uit die gat klim, dan sal hulle hom met 'n vangnet vang. Ja, en dit sal baie reën, en die aarde sal bewe.
19 Die aarde sal stukkend breek, die aarde sal stukkend skeur, die aarde sal heen en weer skud,
20 die aarde sal loop soos 'n dronk mens. Dit sal maklik breek, soos 'n huisie van takke wat iemand gebou het om net een nag daar te slaap. Die sonde van die aarde sal te swaar wees om te dra. Die aarde sal val en nie weer opstaan nie.
21 Daardie dag sal die Here almal in die hemel straf en ook al die konings op die aarde, almal wat dink hulle is sterk.
22 Hy sal hulle bymekaarmaak en in 'n tronk toesluit, in 'n put. Ná baie dae sal Hy hulle straf.
23 Die maan en die son sal ophou skyn wanneer die Here koning word op Sionsberg en in Jerusalem. Hy sal vir die leiers wys Hy is die Koning.