Isaiah 23
1 Die Here was kwaad vir die mense van die stad Tirus en Hy het teen hulle gepraat. Manne op die skepe van Tarsis, julle moet huil, want Tirus is verwoes. Daar is nie meer huise nie en daar is nie meer 'n hawe vir die skepe nie. Julle het dit gehoor toe julle teruggekom het uit Kittiër-land.
2 Julle wat langs die see woon, julle moet stil wees. Die handelaars van Sidon het julle ryk gemaak.
3 Hulle het uit Egipte koring oor die see na Tirus gebring en hulle het dit aan baie volke verkoop.
4 Mense van Sidon, julle weet nie wat om te doen nie, want die stad wat sterk mure het, die stad by die see, het gepraat en gesê: “Ek het nooit kinders gekry nie, ek het nie jongmans en dogters grootgemaak nie.”
5 Wanneer die Egiptenaars dit hoor, dan sal hulle skrik oor wat met Tirus gebeur het. Hulle sal sê:
6 “Julle wat langs die see woon, julle moet na Tarsis gaan, julle moet huil.
7 Is dit die stad waar die mense vrolik was? Is dit die stad wat al so lank daar is? Is dit die stad van waar mense gegaan het en op ver plekke gaan woon het?
8 Wie het besluit dit moet met Tirus gebeur? Tirus het konings gekies en aangestel om te regeer. Tirus se handelaars was prinse, hulle was die belangrikste mense op die aarde.”
9 Die Here wat oor alles regeer, Hý het dit besluit. Hy het besluit om hoogmoedige mense te straf,
10 om die belangrike mense van die aarde te verneder. Mense van Tirus, julle moet nou in die grond werk soos die Egiptenaars, want daar is nie meer 'n hawe vir julle skepe nie.
11 Wanneer die Here sy hand uitsteek oor die see, dan bewe die konings en hulle mense. Die Here het gesê die vyande moet die stede verwoes in die land van die Fenisiërs, die stede wat sterk mure het.
12 Die Here het gesê: “Sidon, jy sal nie meer vrolik wees en feesvier nie. Die vyande sal jou verwoes. Gaan na die Kittiërs toe. Maar jy sal ook nie daar kan rus nie.
13 Kyk wat het gebeur met die mense van Babel, hulle is nie meer 'n volk nie. Die Assiriërs het oorlog gemaak teen die stad en hulle het die mooi huise verwoes. Babel is nou net 'n hoop grond, 'n plek waar woestyn-diere woon.
14 Die manne op die skepe van Tarsis moet huil, want Tirus is verwoes, die stad waar hulle veilig was in die storms.”
15 In daardie tyd sal die mense vir Tirus 70 jaar lank vergeet. Dit is so lank soos 'n koning lewe. En wanneer die 70 jaar verby is, dan sal Tirus wees soos die slegte vrou van wie hulle in die lied sing. Die woorde van die lied is:
16 Die mense het jou vergeet, slegte vrou. Neem jou lier en loop deur die stad, speel mooi op die lier en sing baie, dan sal die mense weer weet dat jy daar is.
17 Wanneer die 70 jaar verby is, dan sal die Here weer vir Tirus sorg. Die mense van die stad sal weer dinge koop en verkoop by al die volke van die wêreld,
18 maar hulle sal nie hulle geld in die stad bêre nie. Die geld sal aan die Here behoort, en die mense wat die Here dien, sal vir hulleself genoeg kos en mooi klere kan koop.