Isaiah 14
1 Ja, die Here sal weer goed wees vir die Israeliete. Hy sal hulle weer kies om sy volk te wees en Hy sal hulle in hulle eie land laat woon. Mense uit ander volke sal by die Israeliete kom woon. Hulle sal saam met die nageslag van Jakob lewe.
2 Ander volke sal die Israeliete terugbring na hulle land, en dan sal die mense van die ander volke slawe en slavinne word van die Israeliete in die land van die Here. Die ander volke het die Israeliete weggevat uit hulle land, maar nou sal die Israeliete die mense van daardie volke wegvat uit hulle lande. Die Israeliete sal nou regeer oor die mense wat slegte dinge gedoen het aan die Israeliete.
3 Israeliete, julle sal nie meer swaarkry en soos slawe vir ander mense moet werk nie. Die Here sal julle swaarkry laat ophou. Wanneer dit gebeur,
4 dan moet julle die koning van Babel spot. Julle moet hierdie lied sing en sê: “Die man wat ons verdruk het, sal nou sterf, ons sal nie meer swaarkry nie.
5 Die Here het die stok gebreek van die slegte mense wat regeer het oor ons.
6 Die koning van Babel het kwaad geword en hy het volke geslaan, hy het dit weer en weer gedoen, hy het kwaad geword en op volke getrap, hy was nie jammer vir hulle nie.
7 Maar nou rus die hele aarde, daar is vrede, al die mense begin sing.
8 Koning van Babel, die sipresbome en die sederbome op die Libanon-berg is ook bly omdat jy dood is, want nou kom niemand om hulle af te kap nie.
9 Die doderyk onder die aarde bewe wanneer jy kom, die geeste van die leiers van die aarde word wakker. Die leiers wat gesterf het, die konings wat dood is, klim af van hulle trone.
10 Hulle praat almal, hulle sê: ‘Jy het nou ook swak geword soos ons, jy is nou soos ons.
11 Jy het altyd mooi dinge gekry en jy het geluister na musiek van 'n harp, maar nou is jy dood, en die wurms vreet jou.
12 Jy was soos die môrester, maar jy het uit die lug geval, jy het ander volke oorwin, maar jy het op die grond geval.’
13 Jy het gedink: Ek sal opklim tot in die hemel en ek sal my troon neersit bo die hoogste sterre, ek sal sit in die vergadering van die gode, daar ver in die noorde.
14 Ek sal opklim tot bo die wolke en ek sal word soos die Hoogste God self.
15 Maar nou gaan jy af na die doderyk, na die diepste plek in die doderyk.
16 Almal wat jou daar sien, sal nader kom en hulle sal kyk na jou. Hulle sal sê: ‘Is dit die man vir wie die mense in al die lande bang was?
17 Is dit die man wat die aarde soos 'n woestyn laat word het? Is dit die man wat die stede afgebreek het en die mense weggevat het en hulle nie laat teruggaan het na hulle huise nie?’
18 Al die konings van die volke is netjies begrawe, elkeen in sy graf,
19 maar die mense het jou nie begrawe nie. Hulle het jou weggegooi soos 'n vrot stuk hout. Jy lê tussen die dooie mense wat gesterf het in oorlog. Jy is soos 'n lyk waarop die mense trap. Ander dooie mense lê in grafte wat in rotse is,
20 maar jy is nie saam met hulle nie. Niemand het jou begrawe nie, want jy het jou land verwoes en jou mense doodgemaak. Niemand sal so 'n slegte man se naam onthou nie.
21 Julle moet 'n plek gereedmaak waar julle sy seuns kan doodmaak oor alles wat hulle pa gedoen het. Die aarde sal nie aan hulle behoort nie, en hulle sal nie stede kan bou oral in die wêreld nie.”
22 Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal oorlog maak teen die stad Babel, daar sal niemand oorbly nie, daar sal nie 'n nageslag wees nie.
23 Ek sal Babel 'n plek maak waar net uile woon, dit sal 'n riet-moeras wees. Ek vee Babel weg met 'n besem wat alles verwoes.” Die Here wat oor alles regeer, het dit gesê.
24 Die Here wat oor alles regeer, het gesê: “Ek belowe, en alles wat Ek wil doen, sal gebeur. Dit sal wees soos Ek besluit het:
25 Ek sal die Assiriërs breek in my land, Ek sal hulle trap totdat hulle plat is op my berge. Ek sal die Assiriërs se juk wegvat van die Israeliete se skouers af, die Israeliete sal nie meer die juk dra nie.”
26 Dit is wat die Here besluit het oor die hele aarde, dit is wat Hy sal doen met al die volke.
27 Ja, die Here wat oor alles regeer, het besluit, en Hy sal doen wat Hy wil doen, en niemand kan Hom stop nie.
28 Die Here is kwaad vir die Filistyne. Dit was in die jaar toe koning Agas gesterf het.
29 Die Here het gesê: “Filistyne, julle moenie bly wees nie. Julle is bly, want die stok wat vir julle geslaan het, is nou stukkend, maar dit sal baie slegter gaan met julle. Dit sal wees soos wanneer jy een slang doodmaak en daar kom nog 'n slang, of soos wanneer jy die slang se eier stukkend trap en daar kom 'n draak uit wat vlieg.
30 Die Israeliete is arm, maar hulle kinders sal genoeg kry om te eet, hulle sal veilig wees. Maar, Filistyne, Ek sal julle kinders doodmaak, hulle sal nie kos hê om te eet nie en hulle sal sterf.
31 Die mense in die poorte van die stede moet huil en skree. Al die Filistyne moet bang wees en bewe, want uit die noorde kom die vyande soos 'n rookwolk, hulle soldate loop almal saam in rye.”
32 Wat sal ons sê vir die mense wat boodskappe bring van daardie volk? Ons sal sê: “Dit is die Here wat Jerusalem gebou het. Sy mense, wat hulleself nie kan help nie, is veilig daar.”