1Die Here het gesê: “Toe Israel 'n jong seun was, was Ek lief vir hom. Ek het my seun uit Egipte geroep.
2Ek het die mense van Israel geroep, maar hulle het weggegaan van My. Hulle het vir die Baäls gaan offer, hulle het vir beelde offers gebring.
3Dit was Ék wat vir Efraim geleer het om te loop. Ek het hulle in my arms gedra, maar hulle het nie onthou dat dit Ek is wat hulle gesond maak nie.
4Ek was goed vir hulle, Ek was lief vir hulle. Ek het hulle gedra soos 'n mens 'n baba dra, Ek het gebuk en vir hulle kos gegee.
5Ek wou nie hê hulle moet teruggaan na Egipte nie, en Ek wou nie hê die koning van Assirië moet oor hulle regeer nie. Maar hulle wou nie terugkom na My toe nie.
6Daarom sal die vyande die mense doodmaak binne-in die stede. Die vyande sal die poorte oopbreek en hulle sal die raadgewers van die koning doodmaak.”
7Die Here het gesê: “My volk het vas besluit om My nie meer te dien nie. Hulle vra vir 'n afgod om hulle te help, maar hy kan hulle nie optel en help nie.
8Maar Ek wil julle nie laat gaan nie, mense van Efraim! En mense van Israel, Ek wil julle nie vir 'n ander god gee nie! Ek wil julle nie laat gaan soos Ek by die stad Adma gedoen het nie. Ek wil nie met julle doen soos Ek met die stad Seboïm gedoen het nie. My hart is seer, Ek is baie jammer vir julle.
9Ek is kwaad, maar Ek sal nie die mense van Efraim doodmaak nie, want Ek is God, Ek is nie 'n mens nie. Ek is die heilige God wat by jou is. Ek sal nie kwaad wees wanneer Ek kom nie.
10Die mense sal die Here volg. Die Here sal brul soos 'n leeu, ja, Hy sal brul, en sy kinders sal bewe en na Hom toe kom. Hulle sal kom uit die weste,
11hulle sal soos voëls bewe en hulle sal uit die land Egipte kom, hulle sal kom soos duiwe uit die land Assirië. Ja, Ek sal hulle terugbring na hulle huise.” Die Here sê dit.