Zechariah 10NLV

1Vra die Here vir reën in die lente en Hy sal dit gee. Hy maak onweerswolke wat stortreën laat val sodat elke veld lowergroen word.

2Wat die huisgode sê, is valse raad, waarsêers voorspel net leuens, die uitlêers van drome verkondig net leë troos. My volk dwaal soos verlore skape sonder ’n herder wat hulle beskerm en lei.

3“My woede brand teen julle herders en Ek sal hierdie leiers straf. Die Here, die Almagtige, het aangekom om sy kudde te versorg. Hy gaan hulle sterk maak soos ’n trotse oorlogsperd.

4Uit Juda sal die hoeksteen, die tentpen, die oorlogsboog en al die heersers kom.

5Hulle sal in ’n geveg soos dapper soldate wees wat hulle vyande met hulle voete in die modder sal vertrap. Omdat die Here by hulle is in die geveg sal hulle die perderuiters van die vyand oorwin.

6“Ek sal Juda sterk maak en Israel red. Ek sal hulle herstel omdat Ek hulle liefhet. Dit sal wees asof Ek hulle nooit verwerp het nie, want Ek is die Here hulle God wat hulle gebede verhoor.

7Israel sal soos dapper helde wees, hulle harte sal gelukkig wees asof hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal alles sien en ook bly wees; hulle harte sal juig in die Here.

8Wanneer Ek vir hulle fluit, sal hulle aangehardloop kom omdat Ek hulle verlos het. Uit die min wat oorgebly het, sal hulle bevolking groei soos wat dit vroeër was.

9Hoewel Ek hulle verstrooi het soos saad tussen die nasies, sal hulle My bly onthou in veraf lande. Met hulle kinders sal hulle oorleef en weer terugkom huis toe, na Israel toe.

10Ek sal hulle terugbring uit Egipte en uit Assirië en hulle hervestig in Gilead en Libanon. Daar sal nie genoeg plek vir almal wees nie!

11Hulle sal veilig trek deur die see van nood omdat die golwe van die see teruggehou sal word. Die water van die Nylrivier sal droog word. Die trots van Assirië sal vernietig word en die heerskappy van Egipte sal tot ’n einde kom.

12Ek sal my volk sterk maak in my krag en hulle sal in my Naam lewe, sê die Here.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Zechariah 10.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.