Song of Solomon 4NLV

1“Jy is mooi, my beminde, so pragtig! Jou oë agter jou sluier is soos die oë van ’n duif. Jou hare golf weg soos bokke wat afstroom teen die Gileadberge.

2Jou tande is so wit soos skape, so pas geskeer en gewas. Hulle is almal tweelinge en nie een van hulle is alleen nie.

3Soos rooi, gevlegte lint is jou lippe, pragtig is jou mond. Soos lieflike, geurige granate is jou wange onder jou sluier.

4Jou nek is so sierlik soos die Dawidstoring wat versier is met duisend skilde van sy helde.

5Jou twee borste is soos tweeling-takboklammers wat tussen die lelies wei.

6Wanneer die dag aanbreek en die skaduwees verdwyn, wil ek na die berg van mirre toe gaan, na die heuwel van wierook.

7My beminde, alles aan jou is mooi. Daar is geen fout aan jou nie.

8“My bruid, kom saam met my van die Libanonberg af. Kom kyk van die kruin van Amana, van bo van Senir en Hermon af, waar die leeus bly en die luiperds lê.

9Jy het my opgewonde gemaak, my suster, my liewe bruid. ’n Skalkse kyk van jou oë, een kyk na die halssnoer om jou nek het my in vervoering gebring.

10Om jou te liefkoos, is wonderlik, my liewe bruid. Dit is soveel beter as wyn. Jou parfuum ruik lekkerder as al die geurige kruie.

11Jou lippe proe soos heuning, my bruid. As jy praat, is dit so heerlik soos heuning en melk. Jou klere ruik so lekker soos die Libanon.

12“My suster, my bruid, is ’n tuin wat toegesluit is. Sy is ’n fontein wat toegebou en verseël is.

13Sy is ’n pragtige boord van granaatbome, met uitsoekvrugte, hennastruike en nardus,

14nardus en saffraan, kalmoes en kaneel saam met geurige kruie, mirre en aalwyn, saam met al die geurigste kruie.

15Sy is ’n fontein in my tuin, ’n put met borrelende vars water wat van die Libanon af stroom.”

16“Begin waai, noordewind, kom, suidewind, kom waai deur my tuin! Waai sy geure aan na my liefling dat hy na sy tuin toe kan kom om sy heerlike vrugte te eet.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Song of Solomon 4.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.