Revelation 5NLV

1Ek het toe in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boekrol gesien, vol geskryf aan die binne- én die buitekant, en deur sewe seëls deeglik verseël.

2Ek het ook ’n sterk engel gesien wat met ’n kragtige stem uitroep: “Wie is waardig genoeg om die boekrol oop te maak deur die seëls daarvan te breek?”

3Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.

4Ek het toe bitterlik gehuil omdat niemand gekry is wat waardig genoeg is om die boekrol oop te maak om daarin te kyk nie.

5Toe sê een van die ouderlinge egter vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid, het oorwin en kan die boekrol en sy sewe seëls oopmaak.”

6Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad, dit is die sewe Geeste van God wat uitgestuur is oor die hele aarde.

7Hy het toe vorentoe getree en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.

8Net toe Hy die boekrol vat, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in aanbidding voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n siter en ’n goue bak vol wierook vasgehou, dit is die gebede van die gelowiges.

9Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde: “U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.

10U het hulle vir ons tot konings en priesters gemaak.”

11Toe het ek gekyk en ek het die stemme gehoor van baie engele wat rondom die troon gestaan het, asook van die lewende wesens en ouderlinge. Hulle getal was tienduisende, eintlik miljoene der miljoene.

12Hulle het in ’n magtige koor gesing: “Die Lam wat geslag is, is waardig genoeg om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lofprysing te ontvang.”

13Die hele skepping — in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see en alles wat in hulle bestaan, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam, kom toe die lofprysing en die eerbetoning, die heerlikheid en die krag vir altyd en altyd.”

14Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het neergeval en Hom begin aanbid.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Revelation 5.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.