Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Mark 10

:
Afrikaans - NLV
1 Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig.
2 ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?”
3 “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie.
4 Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.”
5 Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte.
6 God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’
7 En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.
8 So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.
9 Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.”
10 Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra.
11 Hy toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou.
12 En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”
13 Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek.
14 Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.
15 Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”
16 Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën.
17 Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
18 “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed.
19 Maar wat jou vraag betref jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’”
20 “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.”
21 Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.”
22 Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
23 Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!”
24 Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom.
25 Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.”
26 Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit is, wie kan dan verlos word?”
27 Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!”
28 Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.”
29 Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het,
30 sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe!
31 Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”
32 Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur:
33 “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode.
34 Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar drie dae sal Ek opstaan.”
35 Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.”
36 “Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra.
37 “In u koninklike heerlikheid mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra.
38 Jesus het vir hulle gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie. Sien julle kans om die bitter lydensbeker te drink wat Ek binnekort gaan drink? Sien julle kans vir die lydensdoop waarmee Ek gedoop moet word?”
39 Hulle vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.” “Dis waar,” Hy vir hulle. “Julle sal inderdaad van my beker drink en met my doop gedoop word,
40 maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. Daardie plekke is bestem vir hulle vir wie God dit gereedgemaak het.”
41 Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee wou hê, het hulle bitterlik verontwaardig teenoor Jakobus en Johannes geword.
42 Jesus roep hulle toe bymekaar en vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.
43 Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien.
44 En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees.
45 Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”
46 So het hulle Jerigo bereik. Later, toe Jesus en sy dissipels vergesel van ’n groot skare Jerigo verlaat, het ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit.
47 Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
48 Baie mense het hom toe aangespreek en gesê hy moet stilbly, maar hy het net nog harder aanhou roep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
49 Jesus het toe gaan staan en gesê: “Roep hom.” Hulle roep toe die blinde en vir hom: “Wees bly! Staan op, Jesus roep jou.”
50 Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom.
51 “Wat wil jy moet Ek vir jou doen?” het Jesus gevra. Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!”
52 Toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan maar. Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.” Dadelik kon hy sien en hy het op die pad agter Jesus aan gegaan.