Malachi 2NLV

1“Luister, priesters, hierdie opdrag is vir julle!”

2Die Here, die Almagtige, sê: “Luister na My, maak groot erns daarmee. Julle moet my Naam eer! As julle dit nie doen nie, sal Ek ’n vloek oor julle bring. Selfs julle voorspoed sal Ek verander in ’n vloek. Trouens, Ek het dit alreeds vervloek, want aan my waarskuwing steur julle julle nie.

3Ook julle nageslag sal Ek straf. Ek gaan die mis van die offerdiere by julle feeste oor julle gesigte smeer. Julle sal op die mishoop beland.

4Dan sal julle besef dat dit Ek is wat hierdie opdrag gestuur het sodat my verbond met die Leviete kan voortbestaan,” sê die Here, die Almagtige.

5“Die doel van my verbond met die Leviete was om lewe en vrede te bring. Dit is wat Ek vir die Leviete gegee het. Hulle moes My eer en respekteer en dis presies wat hulle gedoen het. Hulle het My met diep ontsag bejeën,

6mense in my waarheid onderrig en nie leuens vertel nie. In vrede en opregtheid het hulle saam met My geloop. Hulle het ook baie mense gehelp om weg te draai van die sonde.

7“Die priester moet waak oor die kennis wat hy meedeel. Hy moet die volk kan leer wat my wil is, want hy is die boodskapper van die Here, die Almagtige.

8Maar dit was nie so met julle nie!” Die Here, die Almagtige, sê: “Julle het van my pad afgedwaal. Julle sogenaamde onderrig het baie mense laat struikel. Julle het skade aangerig aan my verbond met die Leviete.

9“Julle het nie gelewe soos Ek vereis nie en was partydig in julle toepassing van my voorskrifte. Daarom het Ek veroorsaak dat julle by die hele volk verag en verneder word.”

10Is ons nie kinders van dieselfde Vader nie? En is ons nie almal deur een God geskep nie? Hoekom bedrieg julle mekaar dan, verbreek julle die verbond wat God met ons voorouers gemaak het?

11In Israel en Jerusalem het iets afstootliks gebeur: Juda was ontrou! Die Here het die tempel baie lief, maar die mans van Juda het dit ontheilig deur te trou met vroue wat vreemde gode aanbid.

12Mag die Here alle mense wat so iets doen uit die gemeenskap van Israel verwyder, selfs al bring hulle gereeld offers aan die Here, die Almagtige.

13Daar is nog iets wat julle doen. Julle stort trane by die Here se altaar. Julle huil en kerm, maar Hy aanvaar nie julle offers met goeie guns nie.

14Julle roep uit: “Hoekom nie?” Dis omdat die Here ’n getuie was toe jy en jou vrou julle beloftes aan mekaar gemaak het. Maar jy was ontrou aan haar ten spyte daarvan dat sy getrou as jou metgesel gebly het, die vrou aan wie jy jou huweliksbeloftes gemaak het.

15Het die Here dan nie man en vrou een gemaak nie, een in liggaam en gees? Hoekom het Hy hulle een gemaak? Omdat God wou hê daar moet kinders vir Hom voortspruit. Wees op julle hoede. Moenie ontrou wees aan die vrou van jou jeug nie.

16Die Here, die God van Israel, sê: “Ek haat egskeiding! Om te skei is net so gewelddadig soos om ’n slagoffer se bebloede baadjie aan te trek.” Die Here, die Almagtige, sê: “Wees verantwoordelik en moenie ontrou wees nie!”

17Julle het die Here moeg gemaak met julle baie gepraat en dan vra julle: “Hoe het ons Hom moeg gemaak?” Julle het Hom vermoei deur te sê dat almal wat kwaad doen eintlik vir die Here aanvaarbaar is en dat Hy met hulle tevrede is. Julle het Hom vermoei deur te vra: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Malachi 2.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.