Lamentations 3NLV

1Ek is die man wat ellende ervaar het toe die Here kwaad was.

2Hy het my na ’n plek gejaag waar daar geen lig is nie.

3Hy het teen my gedraai. Sy hand is dag en nag teen my.

4Hy het my laat uitteer. Ek het net vel en been geword. Hy het die gebeente van my liggaam gebreek.

5Hy het my omsingel en my met swaarkry en lyding omring.

6In ’n donker plek het Hy my gaan wegsit soos iemand wat lankal dood is.

7Hy het my ingehok en met swaar kettings geboei sodat ek nie kon uitkom nie.

8Wanneer ek bid en smeek vir hulp, ignoreer Hy my gebed.

9Hy pak my pad toe met klippe, Hy laat my ompaaie loop.

10Hy is soos ’n beer wat my voorlê, soos ’n leeu wat vir my lê en wag.

11Hy het my uit die pad gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê.

12Hy het ’n pyl in sy boog gespan en sekuur na my gekorrel.

13Hy het sy houer met pyle op my leeggeskiet.

14My eie mense lag vir my. Hulle sing heeldag spotliedjies oor my.

15Hy het my vol gemaak met bitter dinge. Hy laat my bitterheid drink.

16Hy laat my klippe kou. Hy trap my weg in die grond.

17Ek het al vergeet hoe dit is om gelukkig en voorspoedig te wees.

18Ek roep uit: “Ek beteken niks. Ek verwag niks meer van die Here nie.”

19Wanneer ek aan my pyn en my hartseer dink, word ek bitter.

20Ek sal nooit ooit vergeet van hierdie slegte tyd nie.

21Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd sal hoop:

22Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy genade het geen einde nie.

23Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut.

24Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die Here. Daarom vertrou ek op Hom.”

25Die Here is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek.

26Dit is goed om geduldig te wag totdat die Here ons red.

27Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag.

28Mense moet geduldig sit en wag totdat die Here aandag aan hulle gee.

29Daar is hoop vir jou as jy stilbly.

30Draai jou ander wang wanneer jou vyande jou beledig.

31Want die Here laat ’n mens nie vir altyd eenkant nie.

32Hy bring wel hartseer, maar Hy het ook medelye omdat sy troue liefde so groot is.

33Hy geniet dit nie wanneer mense seerkry of hartseer is nie.

34Die leiers van sy volk het gevangenes mishandel.

35Hulle het mense se regte vertrap in die teenwoordigheid van die Allerhoogste.

36Hulle behandel mense in die hof onbillik. Hulle dink Hy sien dit nie raak nie.

37Kan daar iets gebeur as die Here dit nie toelaat nie?

38Is dit nie die Allerhoogste wat een mens help en ’n ander vernietig nie?

39Waaroor sal ons kla wanneer ons gestraf word omdat ons oortree het?

40Laat ons eerder gaan kyk na wat ons gedoen het en daaroor nadink sodat ons kan omdraai na die Here toe.

41Laat ons ons harte en hande uitsteek na God daarbo en sê:

42“Ons was opstandig teen U en het nie na U geluister nie. U het ons nie vergewe nie.

43“U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons genadeloos uit te roei.

44U het agter wolke gaan staan sodat ons gebede U nie kon bereik nie.

45Tussen die nasies het U ons gemors en vullis gemaak.

46Al ons vyande rek hulle monde oor ons.

47Ons is bang. Ons sit vasgehok. Ons is verwoes en eenkant toe gegooi.”

48Ek huil omdat my volk vernietig is.

49Ek huil onophoudelik. Dit sal nie ophou

50voordat die Here my van bo af raaksien nie.

51Ek is ontsteld oor die vroue van Jerusalem.

52My vyande het jag gemaak op my, sonder rede. Hulle wou my vang soos ’n voël.

53Hulle wou my in ’n waterput verdrink. Hulle het klippe van bo af op my gegooi.

54Waters het oor my kop gegaan en ek het gedink: “Dit is verby met my.”

55Van onder in die put, o Here, het ek na U begin roep.

56U het my hoor roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.”

57Toe ek na U geroep het, het U nadergekom en gesê: “Moenie bang wees nie!”

58U het my saak verdedig en my lewe gered.

59U het gesien ek is veronreg. Gee tog uitspraak in my guns!

60U het gesien watter planne hulle teen my smee.

61U het gehoor hoe hulle my beledig. U weet van al die planne wat hulle teen my gesmee het.

62Hulle sit heeldag en sleg praat oor my.

63Oral waar hulle kom, sing hulle spotliedjies oor my.

64Betaal hulle terug in eie munt, o Here, vir alles wat aan my gedoen is.

65Maak hulle hardkoppig en straf hulle dan daarvoor.

66Vervolg hulle in u woede. Roei hulle uit van die aarde af.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Lamentations 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.