Lamentations 1NLV

1Die stad wat vol mense was, is nou verlate. Sy sit alleen daar, soos ’n weduwee wat treur. Die stad wat eens die nasies se koningin was, het nou hulle slaaf geword.

2Sy sit dwarsdeur die nag en huil. Trane loop oor haar wange. Nie een van haar minnaars wil haar nou kom troos nie. Al haar vriende het haar verraai en haar vyande geword.

3Juda is weggevoer in ballingskap. Hulle word verdruk en gedwing om te werk. Hulle woon tussen vreemde volke waar hulle nie tuis is nie. Hulle agtervolgers het hulle ingehaal en in ’n hoek vasgekeer.

4Die paaie na Jerusalem lê verlate, want niemand kom meer na die tempelfeeste toe nie. By die stad se ingang is daar niemand nie. Die priesters staan en sug. Die jong vroue huil. Jerusalem kry bitter swaar.

5Hulle wat Jerusalem onderdruk, het gewen. Dit gaan goed met haar vyande. Die Here het die stad gestraf oor die baie sondes wat daar gedoen is. Hulle het haar kinders gevang en weggevat na ’n ander land.

6Al Jerusalem se skoonheid het verdwyn. Haar leiers het geword soos uitgehongerde takbokke, sonder ’n plek om te wei. Hulle kan nie wegvlug van hulle agtervolgers nie.

7In hierdie tyd van swaarkry dink Jerusalem terug aan die tyd toe sy mooi was. Maar sy het in haar vyand se hande beland en niemand kon haar help nie. Haar vyand het haar verwoes en gelag toe sy val.

8Jerusalem het baie gesondig soos iemand wat vuil word. Almal wat haar eers gerespekteer het, verag haar nou. Want hulle het haar kaal en vernederd gesien. Sy kan maar net sug en haar gesig in haar hande wegsteek.

9Sy het haar skandalig gedra en nie aan haar straf gedink nie. Sy het so diep geval dat niemand haar kan help nie. “Here, kyk hoe sleg gaan dit,” snik sy. “My vyand het gewen!”

10Al haar kosbaarhede het die vyand geplunder. Sy het gesien hoe vreemde volke die tempel van die Here ingaan, dié mense wat die Here verbied het om daar in te gaan.

11Haar inwoners sug terwyl hulle na kos soek. Hulle het al hulle kosbaarhede vir kos geruil, net om aan die lewe te bly. “Kyk tog, Here,” sug sy. “Almal verag my!”

12Is dit nie vreeslik vir julle wat by die stad verbyloop nie? Kyk goed of daar ’n hartseer is wat pyn soos dié van my! Die Here het dit oor my gebring toe Hy woedend was vir my.

13Hy het vuur van bo gestuur wat my verteer. Hy het ’n vangnet vir my gespan wat my laat terugsteier. Hy het my verlate gemaak en ongeneeslik siek agtergelaat.

14Die Here het met sy hand van my oortredings ’n juk gevleg. Hy het dit op my nek gesit. Dit het my laat struikel. Die Here het my uitgelewer aan hulle teen wie ek nie kan veg nie.

15Die Here het al my sterk manne met minagting behandel. Hy het ’n leër laat kom wat my jong manne verpletter het. Die Here het Juda stukkend getrap soos ’n mens druiwe uittrap.

16Daarom huil ek so. Trane loop oor my wange. Daar is niemand naby wat my kan troos nie. Daar is geen toekoms vir my kinders nie. Die vyand het ons oorweldig.

17Jerusalem steek haar hande uit vir hulp, maar niemand kom troos nie. Die Here het beveel dat Israel se bure haar vyand moes word, en dat Jerusalem soos ’n vuil ding weggegooi moet word.

18“Die Here is reg,” sug sy. “Dit was ek wat teen Hom in opstand gekom het. Luister tog, al julle volke, na wat ek sê. Kyk na my hartseer. My dogters en my seuns is almal weggevoer as ballinge.

19Ek het my vriende gevra om my te kom help, maar hulle het my in die steek gelaat. My priesters en oumense in die stad het van honger doodgegaan.

20Kyk hoe benoud is ek, Here. My hart krimp inmekaar en ek bewe. Ek was in opstand teen U. Buite in die strate maai die swaard alles af. Binne in die huise is daar net dood.

21Ander mense hoor hoe ek kreun, maar niemand kom my troos nie. My vyande het gehoor wat U met my gemaak het. Hulle juig omdat U dit aan my gedoen het. Laat kom tog die dag wat U beloof het, wanneer hulle soos ek sal word.

22Kyk na al die kwaad wat hulle aangerig het. Straf hulle daarvoor, soos U vir my gestraf het vir al my oortredings. Ek sug baie diep. My hart is siek.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Lamentations 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.