1Jona het uit die ingewande van die vis tot die Here sy God gebid.
2Hy het gesê: “In my groot nood het ek die Here aangeroep en Hy het my geantwoord. Ek het uit die doderyk geroep en U het my gehoor!
3In die diepte van die oseaan het U my gegooi. Ek het tot in die hart van die see gesink. Strome het rondom my gekolk. U het golf na golf oor my laat spoel.
4Ek het gesê: ‘Uit u teenwoordigheid het U my verdryf. Hoe sal ek ooit weer u heilige tempel sien?’
5“Water het my verswelg, die diepwaters het my omring. Seegras was om my kop gedraai.
6Ek het afgesak tot waar die berge begin. Ek was afgesluit van die lewe, vasgevang in die land van die dooies. Maar U, Here my God, het my gered uit die oop kake van die dood!
7“Toe ek alle hoop verloor het, het ek weer aan die Here gedink. In u heilige tempel het U my gebed gehoor.
8Wie vals gode aanbid, minag God se goedheid.
9Ek sal met lofliedere vir U ’n offer bring. Ek sal doen wat ek beloof het. Net die Here bring verlossing!”
10Toe het die Here die vis beveel en hy het Jona op die strand uitgespoeg.