Jeremiah 51NLV

1Die Here sê: “Ek sal ’n verwoester aanhits teen Babel en die inwoners van Babel.

2Ek stuur vreemdelinge na Babel wat hulle sal verstrooi. Op die noodlottige dag sal hulle Babel van alle kante af aanval, en hulle sal die land kaal steel.

3Moenie die boogskutters kans gee om hulle boë te span of hulle gevegsklere aan te trek nie. Moenie die jongmense spaar nie. Nee, roei die hele leër uit!

4Hulle sal dood neerval in Babel of dodelik gewond in die strate lê.

5Want Ek het Israel en Juda nie in die steek gelaat nie. Al is hulle land vol oortredings teen die Heilige van Israel, is Ek steeds hulle God, die Here, die Almagtige.”

6Vlug uit Babel! Red julleself! Moenie dat Babel se sonde julle vernietig nie! Dit is die tyd van die Here se wraak, Hy gaan die stad nou terugbetaal.

7Babel is ’n goue beker in die Here se hande. Die hele wêreld drink daaruit en word dronk. Die nasies drink van die wyn en verloor hulle verstand.

8Skielik het Babel nou ook geval en is verwoes. Huil oor die stad! Gee vir haar medisyne, miskien is daar genesing.

9Ons sou die stad help as ons kon, maar niks kan Babel nou meer genees nie. Vergeet van die stad! Laat elkeen na sy eie land teruggaan! Die oordeel oor die stad reik tot by die hemel, styg tot by die wolke.

10Die Here het ons onskuld bewys. Kom ons vertel in Jerusalem wat die Here ons God gedoen het.

11Maak julle pyle skerp! Neem julle skilde op! Want die Here het die gedagte by die koning van die Mediërs laat posvat om op te trek teen die Babiloniërs en hulle te vernietig. Dit is hoe die Here wraak neem, Hom wreek oor sy tempel.

12Lig die vlag om die mure van Babel aan te val. Versterk die wagposte! Plaas wagte oral uit! Stel hinderlae op! Die Here het ’n plan met die Babiloniërs, Hy voer dit uit!

13Julle woon langs baie water. Julle is skatryk. Maar julle einde het aangebreek, julle lewensdraadjie is geknip!

14Die Here, die Almagtige, sweer by Homself: “Julle vyande sal oor julle spoel soos ’n swerm sprinkane in ’n koringland. Hulle sal die oorwinning oor julle uitskreeu.”

15Deur sy krag het Hy die aarde gemaak, deur sy wysheid die wêreld tot stand gebring. Deur sy insig het Hy die hemel uitgestrek.

16As Hy praat, is daar donderweer in die hemel. Hy laat die wolke opstyg oor die aarde. Hy laat die weerlig blits as dit reën. Hy laat die wind uit sy stoorkamers kom.

17In vergelyking met Hom is elke mens ’n dwaas, sonder enige kennis! Goudsmede maak afgodsbeelde, maar hulle kom in die skande. Hierdie beelde is ’n leuen, want hulle haal nie asem nie.

18Afgode is eintlik nutteloos, ’n bedrogspul! As die tyd van afrekening kom, sal hulle vernietig word.

19Maar die God van Israel is nie so ’n afgod nie. Hy het alles wat bestaan, gemaak, ook sy eie volk, sy besonderse besitting. Hy is die Here, die Almagtige!

20“Jy is my hamer, my oorlogswapen. Ek gebruik jou om nasies mee te verpletter en koninkryke te verwoes.

21Ek gebruik jou om perde en ruiters mee te tref, ook strydwaens met hulle bemanning.

22Met jou hulp sal Ek mans en vroue uitwis, ook oumense en kinders, jong seuns en meisies.

23Ek het jou gebruik om herders en hulle vee uit te roei, so ook plaaswerkers en hulle osse. Ek sal jou gebruik om regeerders en amptenare te vernietig.”

24Die Here sê ook: “Voor julle oë sal Ek Babel en die Babiloniërs terugbetaal vir al die kwaad wat hulle aangerig het in Jerusalem. Julle sal dit sien gebeur.

25Dit kan jy maar weet, vernietiger van die aarde, verwoester van die wêreld, Ek is jou vyand,” sê die Here. “Ek sal teen jou optree, Ek gooi jou teen die berghange af. Ek maak jou ’n verskroeide berg.

26Jy sal vir altyd verwoes lê. Niemand sal uit jou rommel ’n klip kan gebruik vir ’n hoeksteen of ’n steen vir die fondasie nie,” sê die Here.

27Hou ’n vaandel op oor die land, blaas op die ramshoring onder die nasies. Berei die nasies voor vir oorlog teen Babel. Roep die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas op teen Babel. Stel dan ’n bevelvoerder aan en kom met soveel perde soos ’n swerm sprinkane.

28Bring die leërs van die konings van Medië, hulle leiers en die amptenare en al die lande waaroor hulle regeer teen hulle.

29Die land bewe en krul, want die plan van die Here staan vas teen Babel: Hy maak Babel ’n verlate plek — niemand sal daar bly nie.

30Die soldate van Babel veg nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle is so bang soos vroue. Hulle huise is aan die brand, die stadshekke afgebreek.

31Van oral kom boodskappers aangehardloop met nuus vir die koning van Babel: Die stad is van alle kante af ingeval!

32Al die ontsnaproetes is afgesny, die versterkings is aan die brand gesteek, en die soldate is lam van angs!

33Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Babel is soos ’n dorsvloer waar hulle koring trap. Binnekort sal Babel se oestyd aanbreek.”

34“Koning Nebukadnesar van Babel het ons verteer, verpletter en al ons kragte getap. Hy het ons soos ’n groot monster ingesluk. Hy het sy maag vol gemaak met ons skatte. Hy het ons uit ons eie land gegooi.”

35Die mense van Jerusalem sê: “Mag al die geweld wat ons moes deurgaan, na Babel terugkom.” Jerusalem sê: “Mag die Babiloniërs die skuld vir ons bloed betaal!”

36Die Here sê vir Juda: “Ek sal julle saak behartig en namens julle wraak neem. Ek sal Babel se waters en fonteine laat opdroog.

37Babel sal verander in ’n bouval, ’n lêplek vir jakkalse, ’n plek wat mense met afgryse en veragting vervul. Niemand sal meer daar woon nie.

38Hulle brul saam soos leeus, grom soos leeuwelpies.

39Terwyl hulle nog dronk is van die wyn, berei Ek vir hulle ’n ander fees. Ek sal hulle dronk maak sodat hulle vrolik kan raak. Hulle sal aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie,” sê die Here.

40“Ek sal hulle na die slagpale bring soos lammers, ramme en bokke.

41Hoe verskriklik is die val van Babel, vroeër geprys deur die wêreld! Nou sal Babel afstootlik wees onder die nasies.

42Die see het opgestoot en oor Babel gespoel. Die stad lê toe onder die golwe.

43Babel se stede lê in puin, ’n droë land, ’n woestynland. Niemand woon meer daar, of gaan selfs naby verby nie.

44Ek sal Bel in Babel straf. Ek sal hom laat uitspoeg wat hy ingesluk het. Die nasies sal hom nie langer aanbid nie. Ja, Babel se mure het geval.”

45“My volk, maak dat julle uit Babel wegkom! Vlug vir julle lewens, want die Here se woede gloei!

46Moenie angstig raak as julle in die land die nuus hoor van magte wat optrek nie. Elke jaar is daar sulke stories in omloop van leiers wat teen mekaar veg.

47Kyk, die tyd kom dat Ek Babel se afgode gaan straf. Die hele land sal in die skande kom en lyke sal oral rondlê.

48Die hemel en die aarde en alles daarin sal sing van blydskap oor Babel,” sê die Here. “Want die leërs van die verwoestende vyand sal uit die noorde teen Babel optrek.

49“Babel het baie mense van Israel doodgemaak. Hulle het ook baie ander mense in die wêreld doodgemaak. Nou is dit hulle beurt om te sterf!

50Julle wat die dood vrygespring het, vlug! Moenie staan en talm nie! Al gaan julle na veraf lande, dink aan die Here en aan Jerusalem.”

51Julle sê: “Ons is verneder. Ons is beledig en skaam. Want vreemdelinge het die Here se tempel ontwy.”

52Die Here het geantwoord: “Die tyd kom dat Ek Babel se afgode straf. Gewonde mense sal oral deur die land kreun.

53Al reik Babel tot aan die hemel, en al is die torings versterk, nogtans sal die vernietigers teen die stad optrek,” sê die Here.

54“Hoor hoe skreeu hulle in Babel! Dis die geluid van groot vernietiging in die land van die Babiloniërs.

55Want die Here verwoes Babel. Hy laat die rumoer ophou. Die vyand sal met ’n gedreun teen hulle aanstorm soos ’n groot massa water. Hulle oorlogskrete sal deur die stad klink.

56’n Vernietiger trek op teen Babel om die stad te verwoes. Hulle vang die soldate en slaan hulle wapens aan stukke. Omdat die Here ’n God is wat regverdig straf, kry hulle wat hulle verdien.

57Ek maak die leiers, amptenare, wyse manne, bestuurders, bevelvoerders en soldate dronk. Hulle sal aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie!” sê die Koning wie se Naam die Here, die Almagtige, is.

58Die Here, die Almagtige, sê ook: “Babel se mure is baie dik, maar sal gelykgemaak word met die grond. Die stadspoorte is baie hoog, maar vuur sal dit verbrand. Baie werkers uit ander lande het vir hulle gewerk, maar dit was tevergeefs. Vuur sal hulle werk verbrand!”

59Die profeet Jeremia het ’n opdrag saam met Seraja na Babel toe gestuur. Seraja was die seun van Nerija en kleinseun van Magseja. Hy het saam met koning Sedekia na Babel toe gereis. Seraja was verantwoordelik vir die reisreëlings. Dit was in die vierde jaar wat koning Sedekia oor Juda regeer het.

60Jeremia het al die rampe wat Babel gou sou tref op ’n boekrol geskryf.

61Hy het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles wat in die boekrol geskryf staan, hardop lees.

62Dan moet jy sê: ‘Here, U het gesê U gaan hierdie stad verwoes. Geen mens of dier sal meer hier wees nie. Die stad sal vir altyd leeg en verlate bly.’

63“Wanneer jy die boek klaar gelees het, maak dit vas aan ’n klip en gooi dit in die Eufraatrivier.

64Sê dan: ‘Dieselfde sal met Babel gebeur. Babel sal sink en nooit weer opkom nie. Dit sal gebeur omdat die Here rampe oor hulle sal bring. Al hulle mense sal vernietig word.’” Hier eindig die boodskappe van Jeremia.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 51.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.