Jeremiah 30NLV

1Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

2“Die Here, die God van Israel, sê: Alles wat Ek vir jou sê, moet jy in ’n boek neerskryf.

3Die tyd kom dat Ek die omstandighede van my volk Israel en Juda sal verander. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het sodat hulle dit weer in besit kan neem. Ek, die Here, sê dit!”

4Hier volg die boodskap wat die Here vir Israel en Juda gegee het.

5Die Here sê: “Ek hoor hoe my volk uitroep van angs! Daar is vrees en nie rustigheid nie.

6Laat Ek jou ’n vraag vra: Kan mans babas in die wêreld bring? Nou waarom staan hulle dan soos ’n vrou in kraam: hande op hulle heupe, bleek in die gesig?

7Nog nooit in die geskiedenis was daar al ooit so ’n verskriklike tyd nie. Dit is ’n tyd van moeilikheid vir Israel, maar op die ou end sal hulle daaruit gered word!

8“Daardie dag,” sê die Here, die Almagtige, “sal Ek die juk breek wat op julle nekke is en julle boeie verwyder. Geen vreemdeling sal meer oor julle baasspeel nie.

9Hulle sal My, die Here hulle God, dien. Ek sal ook ’n koning aanstel uit die nageslag van Dawid.”

10Die Here sê: “Israel, my kneg, moenie bang of verskrik wees nie. Ek sal julle verlos uit ver plekke, en julle nageslag uit ballingskap. Israel sal terugkeer, en weer rus en vrede in hulle eie land hê. Niemand sal hulle bangmaak nie.

11Ek is by julle en Ek sal julle red, sê die Here. Ek sal die nasies vernietig onder wie Ek julle verstrooi het, maar julle sal Ek nie vernietig nie. Ek dissiplineer julle. Ek kan julle nie ongestraf laat nie.”

12Die Here sê: “Julle beserings is ongeneeslik, julle wonde kan nie gesond word nie.

13Niemand kan julle saak behartig nie. Daar is ook nie medisyne vir julle wonde of genesing vir julle nie.

14Al julle bondgenote het julle in die steek gelaat. Hulle is nie langer besorg oor julle nie. Want Ek het julle gewond asof Ek julle vyand is. Julle oortredings was baie, julle sondes oorvloedig.

15Waarom skreeu julle so omdat julle seerkry? Niks kan julle pyn laat verdwyn nie. Ek straf julle omdat julle so baie oortree en soveel sonde gedoen het.

16“Maar eendag sal hulle wat julle verslind, self vernietig word. Al julle vyande sal self in gevangenskap gaan. Mense wat julle besteel, sal besteel word. Wie waag om julle aan te val, sal self aangeval word.

17Ek sal julle gesond maak en julle wonde genees,” sê die Here, “omdat julle ’n verstoteling genoem word: Sion, vir wie niemand omgee nie.”

18Maar die Here sê: “Wanneer Ek julle terugbring uit ballingskap en julle lot verander, sal Jerusalem herbou word waar nou net bouvalle is. Die paleis sal ook weer soos voorheen lyk.

19Die mense sal weer vrolik wees en liedere sing omdat hulle dankbaar is. En Ek sal hulle laat vermeerder. Hulle sal ’n groot volk wees, en ander sal hulle respekteer.

20Dit sal met hulle kinders goed gaan, soos vroeër. Ek sal hulle weer as ’n volk voor My vestig. As iemand sou waag om hulle te onderdruk, sal Ek hulle straf.

21Een van hulle eie mense sal hulle leier wees, nie ’n vreemdeling nie. Ek sal hom nooi om voor My te kom, want wie kan kom as Ek hom nie genooi het nie?” vra die Here.

22“Julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.”

23Maar neem kennis: die Here se woede is soos ’n storm wat losbars. Dit is soos ’n orkaan wat die slegte mense tref.

24Die Here se verskriklike woede sal nie bedaar nie totdat Hy bereik wat Hy beplan het. Wanneer die tyd aanbreek, sal julle dit verstaan.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 30.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.