1Die Here het vir my nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
2“Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal kan hoor: So sê die Here: Ek onthou nog die toewyding van jou jeug, toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Julle was toe bereid om My deur die dorre woestyn te volg, deur ’n dorre woestyn.
3In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Hy was vir My die belangrikste van my kinders. Almal wat my volk te na gekom het, was skuldig. Rampe het oor hulle gekom, sê die Here.”
4Luister na die boodskap van die Here, huis van Jakob, luister, al die families van Israel!
5Die Here vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers so ver weggedwaal het van My af? Hulle het afgode gedien wat nikswerd is. Deur dit te doen, het hulle self waardeloos geword.
6Hulle het nie eers gedink om te vra nie: ‘Waar is die Here wat ons veilig uit Egipte gebring het en ons deur die woestyn gelei het? Die land was droog en vol slote, dor met donker skaduwees. Niemand trek daardeur nie. Geen mense woon daar nie.’
7Ek het julle gebring na ’n vrugbare land sodat julle die vrugte en die goeie dinge van die land moes geniet. Maar toe julle in my land kom, het julle dit besoedel. Julle het wat Ek vir julle laat erf het, veragtelik gemaak.
8Die priesters vra nie: ‘Waar is die Here?’ nie. Die regsgeleerdes het nie eers twee keer aan My gedink nie. Die leiers van die land was in opstand teen My. En die profete het namens Baäl geprofeteer. So mors hulle hulle tyd op niks.
9Om dié rede,” sê die Here, “maak Ek ’n saak teen julle. Ek sal ook julle kinders en hulle kinders in die toekoms aankla.
10Gaan wes tot by Siprus, en oos tot by Kedar. Kyk mooi wat daar aangaan. Het so iets al ooit gebeur?
11Het ’n volk ooit hulle gode vir ander gode verruil al is hulle nie regtig gode nie? Tog het my mense My verruil vir gode wat niks werd is nie!
12Wees geskok, o hemele! Krimp ineen van afgryse,” sê die Here.
13“My volk het twee bose dinge gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee. En hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie.”
14“Is Israel ’n slaaf? Hulle is mos nie gebore as slawe nie! Hoekom is hulle nou soos ’n prooi?
15Leeus het hard en dreigend teen Israel gebrul. Hulle het die land verwoes, die dorpe is nou puinhope. Niemand bly meer daar nie.
16Die mense uit Egipte, Memfis en Tagpanges het Israel se mag verbreek en hulle verneder.
17Julle het die probleme oor julleself gebring deur teen die Here te rebelleer toe Hy julle op die regte pad wou lei!
18Wat het dit julle gehelp om by Egipte, of selfs by Assirië te gaan hulp soek? Kon die waters van die Nyl of die Eufraat julle dors les?
19Julle eie sonde sal julle straf. Julle sal sien hoe bitter dit is om ontrou aan My te lewe, om die Here julle God nie te eer nie. Dit is Ek, die oppermagtige Here, die Almagtige, wat praat!
20“Lank gelede het Ek die juk gebreek waarmee jy moes ploeg. Ek het die kettings van slawerny van jou afgehaal, maar jy het gesê: ‘Ek sal Hom nie dien nie.’ Op elke heuwel en onder elke groen boom het jy jou soos ’n prostituut gedra en voor die afgode gebuig.
21“Ek het jou geplant as ’n uitgesoekte wingerdstok, opreg gekweek! Hoe het julle dan verander in ’n wilde druiwestok?
22Al was julle julleself ook met groot hoeveelhede seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Vir My sal al julle skuld soos vuil vlekke bly,” sê die oppermagtige Here!
23“Hoe kan julle sê: ‘Dit is nie waar nie! Ons het nie beelde van Baäl aanbid nie’? Gaan kyk gerus wat julle in al julle valleie doen. Neem verantwoordelikheid vir julle doen en late! Julle tree op net soos ’n onrustige kameelkoei wat rondhardloop op soek na ’n bul.
24Julle tree net soos ’n wildedonkie op. As dit paartyd is, snuif sy in die wind. Wie kan haar drange beheer? Die hingste hoef nie eers na haar te soek nie. Sy hardloop agter hulle aan!
25Waarom loop julle agter die gode aan totdat julle skoene deurgeloop is en julle kele brand van dors? Maar julle sê: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons is lief vir hierdie vreemde gode. Ons sal nie ophou om hulle te aanbid nie!’
26“Soos ’n dief wat betrap word in die skande kom, so sal Israel — sy konings, leiers, priesters en profete — in die skande kom.
27Hulle sê vir ’n beeld uit hout gesny: ‘Jy is my pa.’ En vir ’n beeld uit klip gekap: ‘Jy is my ma.’ Hulle steur hulle glad nie aan My nie, maar sodra hulle in die moeilikheid is, roep hulle: ‘Kom help ons!’
28Hoekom vra julle nie hulp by hierdie gode wat julle gemaak het nie? As húlle kan, laat hulle julle uit die moeilikheid help! Juda, julle het net soveel gode as dorpe.
29“Hoekom kla julle My aan? Dit is julle wat teen My in opstand kom,” sê die Here!
30“Tevergeefs het Ek julle mense gestraf. Hulle het hulle nie gesteur aan vermanings nie. Julle het julle profete afgemaai soos leeus ’n prooi verskeur.
31“Israel, luister na die woord van die Here! Hy vra: ‘Is Ek vir Israel soos die woestyn of ’n pikdonker land?’ Hoekom sê my volk: ‘Uiteindelik is ons vry, en ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’?
32Vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe kan my mense My dan dae aaneen vergeet?
33Jy ken al die fyner kunsies om minnaars te lok. Die mees ervare prostituut kan by jou kom leer.
34Jou klere is bevlek met bloed van onskuldige armes. Jy maak hulle dood selfs al het hulle nie by jou huis ingebreek nie.
35Tog sê jy: ‘Ek is onskuldig. Regtig, die Here kan nie vir my kwaad wees nie!’ Weet dit: Ek gaan jou straf juis omdat jy sê: ‘Ek het nie gesondig nie!’
36Jy flankeer van die een na die ander om jou te help. Maar soos Assirië jou in die steek gelaat het, so sal Egipte jou ook in die steek laat.
37Jy sal terugkom met jou hande op jou kop, en in ballingskap gaan, want die Here het die nasies verwerp op wie jy vertrou het. Jy sal nie slaag nie, ondanks hulle hulp.”