Isaiah 59NLV

1Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie.

2Julle probleem is dat julle sondes julle afgesny het van God. Hy het weggedraai van julle. Dit is weens julle sondes dat Hy nie meer na julle wil luister nie.

3Julle hande is vol bloed, julle vingers is skuldig van al die onreg. Julle monde is vol liegstories. Julle tonge fluister net onreg.

4Niemand stel sy saak met opregtheid nie. Geen uitspraak is betroubaar nie. Almal vertrou op leë argumente en praat leuens. Hulle verwek slegte gedagtes en gee dan geboorte aan onreg.

5Hulle broei slangeiers uit en weef ’n spinnekopweb. Dié wat van die eiers eet, sal sterf. En as die eiers breek, kom daar slange uit.

6Die spinnerakke is onbruikbaar vir klere; hulle kan hulleself nie daarmee toemaak nie. Hulle dade is vol boosheid en hulle kenteken is geweld.

7Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet. Hulle planne is bose planne. Hulle kenmerk is ondergang en verwoesting.

8Ware vrede ken hulle nie. Op hulle paaie is daar geen reg nie. Dié wat daarop loop, sal nie vrede ken nie.

9Daarom is redding ver van ons, geregtigheid nie te vind nie. Ons wag op lig, maar alles bly donker om ons. Ons wag vir helderheid, maar dit is nog steeds donker.

10Soos blindes tas ons teen die mure. Ons tas rond soos mense sonder oë. Selfs helder oordag struikel ons asof dit skemer is. Geen wonder ons is soos lyke tussen gesonde mense nie!

11Ons grom soos honger bere. Ons kla soos tortelduiwe. Want ons soek na reg, maar dis nêrens te kry nie. Ons soek na uitkoms, maar dit bly ver van ons af.

12Ons oortredings teen U is baie. Ons sondes getuig teen ons. Ons opstandigheid is altyd voor ons, ons is bewus van ons sondes:

13ons opstand en valsheid teen die Here, die ontrou teen ons God, ons onreg en verdraaiing van die reg. Ons beplan en vertel leuens.

14Die reg is omgekeer, die regverdige mense moet op ’n afstand staan. Die waarheid struikel in die strate. Eerlikheid kan nie daar ingaan nie.

15Waarheid is nêrens te vind nie. Elkeen wat ophou om kwaad te doen, word self vervolg. Die Here het dit raakgesien, en dit was vir Hom verkeerd dat daar geen regverdigheid in die regspraak meer was nie.

16Hy was verstom om te sien dat niemand die verdruktes help nie. Daarom het Hy self gekom om redding te bewerk en geregtigheid te laat geskied.

17Hy trek regverdigheid aan soos beskermende klere, en sit die helm van redding op sy kop. Sy klere is wraak en sy woede ’n mantel.

18Hy vergeld almal volgens hulle verdienste: sy woede straf sy vyande, selfs hulle wat ver is.

19Van die westekant af sal mense die Naam van die Here eer, van die oostekant af sal hulle sy heerlikheid eer. Hy kom soos ’n opgedamde vloed, wat deur die Gees van die Here aangeblaas word.

20“Die Redder sal kom na Sion, Hy kom as Verlosser vir almal in Jakob wat hulle van hulle sondes bekeer,” sê die Here.

21“Wat My betref,” sê die Here, “dit is my verbond met hulle: My Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond of uit die monde van jou kinders, of jou kindskinders verdwyn nie, van nou af en vir altyd. Ek, die Here, het so gesê!”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 59.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.