1Kyk, daar kom ’n koning wat regverdig sal wees! En leiers sal eerlik oor die volk regeer.
2Hy sal Israel beskerm teen die wind en die storm. Hy sal hulle verfris soos ’n rivier in die woestyn en soos die koel skaduwee van ’n groot rots in ’n verlate land.
3Dan sal almal wat kan sien, God raaksien. En almal wat kan hoor, sal na sy stem luister.
4Selfs die heethoofdiges onder hulle sal kalm raak en verstaan. Die mense wat onseker hakkel, sal gemaklik kan praat.
5’n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie, en ’n skurk sal nie meer gerespekteer word nie.
6Almal sal dwase raaksien vir wat hulle is. Hulle versprei liegstories oor die Here. Hulle steel honger mense se kos. Hulle gee nie water vir mense wat dors is nie.
7Die skelmstreke van skurke sal onthul word. So ook al die liegstories wat hulle vertel het om arm mense in die howe te verdruk.
8Maar eerbare mense het eerbare planne. Hulle sal eerbaar behandel word.
9Luister, vroue wat selfvoldaan lewe. Luister na my, julle wat so selfversekerd is!
10Binnekort, oor bietjie meer as ’n jaar, sal julle wat nou so sorgeloos is skielik iets hê om oor te bewe. Want julle vrugte-oes sal vergaan. Daar sal geen oes wees nie.
11Bewe, onbesorgde vroue. Raak ontslae van julle onbesorgdheid. Trek uit julle mooi klere. Dra klere van sak oor julle smart.
12Slaan op julle borste van smart. Want julle oorvloedige plase is een van die dae daarmee heen. So ook julle vrugbare wingerde.
13Want julle land sal oorgroei word met dorings en dissels. Julle vrolike huise en gelukkige stede sal weg wees.
14Die paleis en die stad sal verlate lê. Besige dorpe sal leeg wees. Troppe donkies en bokke sal op die heuwels wei waar julle uitkyktorings eers gestaan het.
15Dit sal so bly totdat die Gees uit die hemel oor ons uitgestort word. Dan word die woestyn ’n vrugbare veld. En die vrugbare veld word ’n welige woud.
16Regverdigheid sal in die woestyn heers, en geregtigheid in die vrugbare veld.
17Reg sal veroorsaak dat daar vrede sal wees. En geregtigheid sal veroorsaak dat almal rustig en veilig sal bly.
18My volk sal veilig bly, rustig in hulle huise. Hulle sal vrede hê.
19Ook al vernietig hael die woud en word die stad platgevee,
20met julle sal dit geseënd gaan. Waar julle ook al saai, sal goeie oeste volg. Julle beeste en donkies sal die wêreld vol wei.