1Die Here, die Here, die Almagtige, sal die kos- en watervoorrade van Jerusalem en Juda afsny.
2Hy gaan elkeen van die leiers van die volk vernietig: helde, soldate, regters, profete, waarsêers, ouderlinge,
3leëroffisiere, eerbare burgers, adviseurs, kundige vakmanne en deskundige besweerders.
4Dan sal Hy kinders aanstel wat oor hulle sal regeer, en wetteloosheid sal uitbreek.
5Mense sal mekaar inloop — man teen man en vriend teen vriend. Jongmense sal teen gesag in opstand kom, en veragtes sal op eerbare mense neersien.
6In daardie tyd sal ’n man vir sy broer sê: “Omdat jy behoorlike klere het, moet jy ons leier kom wees! Kom regeer oor die ruïnes.”
7“Nee!” sal hy antwoord. “Ek kan nie help nie. Ek het nie ekstra kos en klere in my huis nie. Moet my nie vra om betrokke te raak nie!”
8Van Juda en Jerusalem sal net ruïnes oorbly omdat hulle met woord en daad die Here teenstaan en hulle nie steur aan sy heerlike teenwoordigheid nie.
9Hulle gesigte gee hulle al weg dat hulle skuldig is. Hulle sondig openlik soos die mense van Sodom. Hulle steek dit nie eens weg nie. Hulle het hulle eie ondergang bewerkstellig!
10Sê vir die regverdige: “Dit sal goed gaan met jou. Julle sal kry wat julle verdien!”
11Maar verwoesting wag vir die bose. Hulle gaan ook kry wat húlle verdien.
12Kinders verdruk my volk en vroue heers oor hulle. My volk, julle leiers vat julle op die verkeerde pad, na julle vernietiging toe.
13Die Here maak Hom klaar om die volk te oordeel. Hy staan reg om téén sy mense op te tree!
14Die leiers en regeerders gaan die eerste wees wat die Here se oordeel beleef. “Julle het die wingerd geruïneer. Israel is my wingerd. Julle het die armes besteel, hulle eiendom vir julle gevat.
15Hoe kon julle dit waag om my volk en die armes so in die stof in te trap?” vra die oppermagtige Here, die Almagtige.
16Verder sal die Here ’n oordeel uitspreek oor die vroue van Jerusalem, wat met hulle neuse in die lug rondloop, met ringe wat rinkel aan hulle enkels. Hulle oë soek tussen die skare, hulle flankeer met elke man.
17Die Here sal hulle koppe ontsier. Ja, die Here sal hulle bles maak.
18Daardie dag stroop die Here hulle swierigheid, die bande om hulle koppe, die hangertjies in die vorm van ’n halfmaan,
19oorringe, armbande en sluiers,
20hooftooisels, voetkettinkies en versierde gordels. Hulle gelukbringertjies sal weg wees,
21hulle ringe en neusringe,
22partytjieklere, mantels, tjalies en handsakkies,
23spieëltjies, fyn linneklere, kopdoekies en tjalies.
24In plaas daarvan dat hulle na reukwater ruik, sal hulle stink. Hulle sal toue vir gordels dra, en hulle mooi gekamde hare sal uitval en bles word. In die plek van hulle mooi klere sal hulle ’n roukleed dra. In die plek van hulle skoonheid sal hulle die brandmerk dra van ’n slaaf.
25Die manne van die stad sal in die oorlog doodgemaak word, en die soldate in die geveg.
26Die ingange van Jerusalem sal rou en huil. Die mense van die stad sal verlate op die grond sit.