Habakkuk 3NLV

1Hierdie is ’n gebed van Habakuk. ’n Lied.

2O Here, ek het gehoor wat van U vertel word. Ek is in verwondering oor alles wat U gedoen het. Doen in ons tyd ook hierdie dinge wat U in die verlede gedoen het. Moenie vergeet om genadig te wees nie al is U baie kwaad.

3God, die Heilige, beweeg oor die woestyne van Edom en van die Paranberg af. Sy groot heerlikheid vul die hemelruim. Die aarde is vol van sy lof!

4Helder ligstrale flits uit sy hand, daar waar sy krag verskuil is.

5Pes gaan voor Hom uit, dodelike plae volg in sy voetspore.

6As Hy stilstaan, skud die aarde. Wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Hy laat oeroue berge verkrummel en eeue oue heuwels platval.

7Ek sien die tente van Kusan bewe, die benoudheid van dié in Midian.

8Was U kwaad vir die riviere, Here, toe u woede teen strome ontvlam, u toorn teen die see ontbrand het? U het op perde gery en op strydwaens van oorwinning!

9U beveel u magtige wapens om gereed te wees. Sela Met riviere kloof U die aarde oop.

10Die berge sien wat gebeur en bewe, onstuimige waters stroom verby. Die diepwaters dreun, met golwe wat opslaan soos hande omhoog gelig.

11Die son en die maan het begin verdof, verduister deur blitsende pyle en die glans van u blinkende spies.

12U stap oor die aarde in verontwaardiging, U vertrap die nasies in u woede.

13U gaan uit om u volk te verlos, U red u gesalfdes. U verpletter die leier van kwaaddoeners, van kop tot tone stroop U hom kaal.

14U deurboor die leier van die soldate met sy eie spies. Sy soldate storm uit soos ’n warrelwind, want hulle dink Israel is ’n maklike prooi.

15U vertrap die see met u perde sodat magtige waters opbruis.

16Toe ek al hierdie dinge hoor, het ek gesidder. My lippe het van vrees gebewe, my liggaam het lam geword, my bene het onder my ingegee. Tog sal ek rustig wag vir die dag wanneer rampspoed dié mense tref wat besig is om ons aan te val.

17Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg;

18tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos!

19Die oppermagtige Here is my krag! Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Vir die musiekleier: Die psalm moet met snaarinstrumente begelei word.)

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Habakkuk 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.