Ezekiel 32NLV

1Op 3 Maart, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:

2“Mensekind, huil oor die farao, die koning van Egipte. “Sê vir hom: Jy het jouself as ’n sterk, jong leeu tussen die nasies gesien, maar eintlik is jy ’n seemonster wat in jou riviere rondtrap en die water modderig maak.

3“Die oppermagtige Here sê: Ek stuur baie mense om jou in my net te vang en jou uit die water te sleep.

4Ek los jou op droë grond. Al die voëls en wilde diere sal aan jou karkas kom vreet, hulle sal versadig word.

5Ek maak heuwels toe met jou vleis en die valleie met jou bene.

6Ek deurweek die aarde met jou bloed tot by die berge. Die klowe maak Ek vol daarvan.

7Wanneer Ek jou vernietig, maak Ek die hemel toe en verdonker Ek die sterre. Ek bedek die son met wolke en die maan sal nie skyn nie.

8Ek bring donkerte oor jou hele land. Selfs die helderste sterre sal bo jou donker word. Ek is die oppermagtige Here, en Ek sê so.

9“Baie mense sal ontsteld wees wanneer hulle hoor van jou einde, selfs in verre lande waarvan jy nie eens geweet het nie.

10Ek maak baie mense verstom oor wat met jou gebeur. Hulle konings se hare sal regop staan oor wat jou sal tref as Ek my swaard oor hulle swaai. Die dag as Ek jou tot ’n val bring, sal elkeen vir sy lewe vrees.

11“Die oppermagtige Here sê: Die swaard van die koning van Babilon is op pad na jou toe.

12Ek sal jou vernietig met die swaard van sterk soldate, wat almal wrede mense is. Hulle vernietig Egipte se trots; al sy mense word uitgeroei.

13Ek vernietig ook al jou vee wat by die water wei. Die water sal nie meer vertroebel word deur mensevoete of pote van vee nie.

14Ek maak die water van Egipte helder, en dit sal rustig vloei soos olyfolie, sê die oppermagtige Here.

15“Wanneer Ek Egipte vernietig en alles uitwis en al sy mense doodmaak, sal julle besef Ek is die Here.

16Dít is die begrafnislied wat hulle dan vir Egipte sal sing, die vroue van ander nasies wat oor Egipte en sy mense sing. So sê die oppermagtige Here.”

17Op 17 Maart, in die twaalfde jaar, het ek nog ’n boodskap van die Here gekry:

18“Mensekind, treur oor die mense van Egipte, want saam met sterk nasies stuur Ek hulle na die onderwêreld, om in die graf te lê.

19Sê vir hulle: ‘Egipte, is jy beter as die ander nasies? Gaan af en gaan lê tussen die onbesnedenes!’

20Hulle sal omkom saam met ander wat deur die swaard gesneuwel het, want die swaard is reeds uitgetrek. Laat Egipte en al sy menigtes weggesleep word.

21Vanuit die graf spot die magtige leiers vir Egipte en sy bondgenote: ‘Hulle het neergedaal na die graf en lê nou by die onbesnedenes, by die slagoffers van die swaard!’

22“Assirië lê daar, omring met grafte van al sy mense, almal slagoffers van die swaard.

23Hulle grafte is diep in die doderyk, omring deur hulle bondgenote. Lank tevore het hulle oral angs in mense gewek, maar nou het hulle vyande hulle doodgemaak.

24“Elam en al sy menigtes is daar met sy mense rondom sy graf, almal deur die swaard getref. Hulle wat onder die lewendes paniek gesaai het, het onbesnede na die doderyk gegaan. Hulle dra die vernedering saam met dié wat in die graf is.

25Hy lê tussen dié wat dood is, tussen die grafte van sy krygers. Almal is onbesnede, omgebring deur die swaard. Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes, maar lê nou verneder in die graf saam met dié wat omgekom het.

26“Mesek en Tubal is daar, omring deur die grafte van hulle menigtes, almal onbesnede slagoffers van die swaard, want hulle het paniek gesaai onder lewendes in die land.

27Hulle is nie met eer begrawe soos helde met hulle wapens nie — met skilde wat hulle liggame bedek en swaarde onder hulle koppe nie. In die land van die lewendes het hulle oral paniek gesaai.

28“Ook jy, Egipte, sal verslaan lê tussen die onbesnedenes, almal slagoffers van die swaard.

29“Edom is daar, met konings en prinse. Eens was hulle magtig, maar nou het hulle ook gesneuwel en lê in die graf saam met onbesnedenes.

30Al die leiers van die noorde, ook die Sidoniërs is daar. Hulle wat met hulle mag verskrikking gesaai het, lê nou by onbesnedenes saam met dié wat gesneuwel het. Hulle deel die vernedering met dié wat reeds dood is.

31“Wanneer die farao daar aankom, sal hy verlig wees om te sien dis nie net sy leër wat vernietig is nie, sê die oppermagtige Here.

32Want Ek het paniek gebring oor almal wat leef. Die farao en al sy hordes sal nou by onbesnedenes moet lê, by hulle wat gesneuwel het. Ek, die oppermagtige Here, sê so.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Ezekiel 32.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.