1Ek het oor dit alles nagedink en probeer verstaan hoe dit is dat dié wat reg doen, en dié wat wysheid het, en dit wat hulle doen, onder God se beheer is. Maar niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie.
2Dieselfde lot wag vir alle mense, dié wat regverdig is of goddeloos, goed of sleg, rein of onrein, dié wat offer en dié wat nie offer nie. Goeie mense en sondaars kry dieselfde behandeling. Soos dit gaan met dié wat ’n eed aflê, so gaan dit ook met dié wat nie ’n eed aflê nie.
3Die slegste ding van alles wat onder die son gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Ook dat die hart van die mens vol boosheid is. Die dwaasheid bly by hom sy lewe lank. Daarna gaan hy na dié wat reeds dood is.
4Net mense wat leef, het enige hoop. Selfs ’n hond wat lewe, is meer werd as ’n leeu wat dood is.
5Dié wat lewe, weet ten minste dat hulle sal doodgaan. Maar dooies weet niks. Daar wag vir hulle geen beloning meer nie, en niemand onthou hulle nie.
6Dit is dan klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat onder die son gebeur nie.
7Daarom, eet jou brood met blydskap. Drink jou wyn met ’n hart vol vreugde. Want God het lankal reeds dit goedgekeur wat jy doen.
8Dra wit klere, moenie ophou om olyfolie op jou kop te gooi nie.
9Leef gelukkig saam met die vrou wat jy liefhet, solank die sinlose lewe aanhou wat God jou onder die son gegee het. Dit kom jou toe in die lewe, onder al jou geswoeg onder die son.
10Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die graf waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig, kennis of wysheid nie.
11Ek het nog iets onder die son gesien: Die vinnigste wen nie die resies nie. Die sterkstes wen nie die geveg nie. Ook dié met wysheid is nie dié wat kos het nie. Dis nie verstandiges wat ryk word, of dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en gebeurtenisse.
12Niemand kan voorspel wanneer sy tyd aanbreek nie. Dis soos visse wat gevang word in ’n net, soos voëls gevang word in ’n wip, so word die mens gevang in tye van teëspoed as dit onverwags op hom toesak.
13Ek het ook hierdie wysheid onder die son gesien, en dit was vir my merkwaardig:
14Daar was ’n dorpie met min mense. ’n Groot koning het die dorpie beleër en groot beleëringstellasies daarteen gebou.
15Daar was ’n arm man wat baie wys was. Hy het die stad met sy wysheid gered. Maar agterna het niemand die arm man onthou nie.
16Toe het ek besef: Wysheid is beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie.
17Tog word die rustige woorde van die wyse beter gehoor as die harde geskreeu van ’n koning wat oor dwase regeer.
18Wysheid is meer werd as oorlogswapens. Maar een persoon wat fouteer, kan baie wat goed is, bederf.