Amos 6
1 Teëspoed wag op julle wat dink julle is sorgvry en veilig in Jerusalem en Samaria. Julle word beskou as vooraanstaande en belangrike mense van Israel. Die mense van die volk kom na julle vir hulp.
2 Gaan na Kalne en kyk wat het daar gebeur. Gaan van daar na die groot stad Hamat en nog verder af na Gat van die Filistyne. Julle is tog nie beter as hierdie stede nie. Julle grondgebied is nie groter as hulle s’n nie.
3 Julle wil nie glo dat die dag van teëspoed naby is nie. Maar julle optrede bring self die tyd van geweld nader.
4 Julle lê ontspanne op julle ivoorversierde beddens en rusbanke. Julle eet die sagte vleis van uitgesoekte lammers en kalwers.
5 Julle sing liedjies saam met die harp. Soos Dawid ontwerp julle musiekinstrumente.
6 Julle drink bekers vol wyn en smeer uitsoekolies aan. Maar oor die ondergang van Israel ontstel julle julle nie.
7 Julle sal die eerstes wees om in ballingskap te gaan. Verby is die tyd vir uitspattige feesvierings.
8 Die oppermagtige Here het ’n eed geneem en dit is wat die Here God, die Almagtige, gesê het: “Ek verag Israel se trots en haat hulle spoghuise. Ek sal die stad met alles daarin aan hulle vyande oorgee.
9 “As tien mense oorbly in een huis, sal hulle almal sterf.
10 As ’n familielid kom om die lyke te verbrand, die huis binnegaan om die lyke weg te vat, en vra of daar enige oorlewendes is: ‘Is daar nog iemand saam met jou?’ en die persoon antwoord: ‘Nee!’ Dan sal die familielid sê: ‘Bly stil! Moenie eers die Here se Naam fluister nie. Hy kan jou dalk hoor!’
11 As die Here die opdrag gee, sal van die grootste tot die kleinste huise tot stukke en brokke afgebreek word.
12 “Perde kan tog nie oor rotse galop nie! ’n Mens gebruik mos nie osse om rotse om te ploeg nie! Tog het julle wat reg is in iets giftigs verander, en wat regverdig is in iets wat bitter is.
13 Julle spog oor Lo-Dabar en sê: ‘Het ons nie Karnajim op eie krag ingeneem nie?’”
14 Die Here God, die Almagtige, sê: “O volk van Israel, Ek sal ’n vyandige volk oor julle laat heers. Hulle sal julle onderdruk vanaf Lebo-Hamat in die noorde tot by die Arabaspruit in die suide.”