Amos 3NLV

1Luister na hierdie boodskap wat Ek, die Here, oor julle te sê het, mense van Israel. Dit raak die hele volk wat Ek uit Egipte laat trek het.

2“Ek het net vir julle gekies uit al die volke op die aarde. Daarom sal Ek julle straf vir al julle sondes.”

3Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?

4Sal ’n leeu in ’n bos brul sonder dat hy ’n prooi het? Sal ’n leeu grom in die ruigtes as hy niks gevang het nie?

5Sal ’n voël gevang word as ’n wip nie gestel is nie? Sal ’n wip toeklap op die grond as dit nie iets gevang het nie?

6As die oorlogstrompet blaas, sal mense dan nie skrik nie? As ’n ramp ’n stad tref, het die Here dit dan nie veroorsaak nie?

7Die oppermagtige Here doen niks sonder om sy diensknegte, die profete, daaroor in te lig nie.

8Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die oppermagtige Here het gepraat! Wie sal weier om as profeet op te tree?

9Kondig die volgende boodskap in die paleise in Asdod en in Egipte aan: “Kom bymekaar op die heuwels rondom Samaria en aanskou die groot misdade en onderdrukking wat in hierdie stad aangaan.”

10Die Here sê: “Hierdie mense het vergeet wat dit beteken om reg te laat geskied. Hulle luukse blyplekke is vol rykdom, deur diefstal en geweld in die hande gekry.”

11Die oppermagtige Here sê verder: “Daarom is ’n vyand op pad! Hy sal die vestings afbreek en jou paleise plunder.”

12Die Here sê: “’n Skaapwagter sal twee bene of miskien ’n stukkie oor red uit ’n leeu se bek. Net so sal die Israeliete gered word, hulle wat in Samaria op gemaklike banke sit en op ’n rusbank in Damaskus.”

13Luister hierna en kondig dit aan deur die hele Israel, sê die oppermagtige Here die almagtige God: “Luister na My en waarsku Jakob se nageslag.

14Die dag as Ek Israel se oortredings straf, sal Ek ook die heidense altare in Bet-El vernietig. Die afgebreekte horings van die altaar sal op die grond val.

15Ek sal winterhuise en somerhuise verwoes. Ek sal die ivoorversierde huise afbreek, niks sal van al hierdie plekke oorbly nie.” Dit is wat die Here sê!

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Amos 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.