Amos 1
1 Hierdie boodskap oor Israel is vir Amos, ’n skaapboer uit Tekoa, gegee. Hy het dit twee jaar voor die aardbewing deur ’n visioen ontvang. Dit was in die tyd toe Ussia koning van Juda was en Jerobeam, die seun van Joas, koning van Israel.
2 Amos het die volgende gesê: “Die Here brul uit Sion, sy stem dreun uit Jerusalem! Die weivelde kwyn weg. Die gras bo-op Karmel verdor.”
3 Die Here sê: “Die mense van Damaskus het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle het die mense van Gilead soos graan met ’n ysterslee vertrap.
4 Daarom sal Ek die paleis van koning Gasael afbrand. Die vestings van Ben-Hadad sal Ek vernietig.
5 Damaskus se hekgrendels sal Ek stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen sal Ek uitroei. Die leier van Bet-Eden sal Ek uitruk en die mense van Sirië as gevangenes na Kir laat wegvoer.” So sê die Here.
6 Die Here sê: “Die mense van Gasa het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle het my volk in ballingskap laat gaan, hulle aan Edom as slawe verkoop.
7 Ek sal die mure van Gasa afbrand, Ek sal hulle vestings vernietig.
8 Die inwoners van Asdod sal Ek uitwis, die koning van Askelon uitroei. Daarna sal Ek Ekron aanval, en die Filistyne wat oor is, sal ophou bestaan.” So sê die oppermagtige Here!
9 Die Here sê verder: “Die mense van Tirus het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle ooreenkoms met Israel het hulle nie nagekom nie. Hulle het hele gemeenskappe weggevoer en hulle aan Edom uitgelewer.
10 Ek sal die mure van Tirus afbrand en hulle vestings vernietig.”
11 Die Here sê: “Die mense van Edom het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Hulle het hulle bloedverwante, die Israeliete, genadeloos met swaarde agtervolg. Hulle het ’n ewige haat vir Israel gehad, ’n woede wat bly opvlam.
12 Daarom sal Ek Teman afbrand en die vestings van Bosra verteer.”
13 Die Here het gesê: “Die mense van Ammon het keer op keer gesondig. Ek sal hulle nie langer ongestraf laat nie! Toe hulle Gilead aangeval het om hulle grense uit te brei, het hulle selfs swanger vroue oopgesny.
14 Daarom sal Ek ’n vuur aansteek in die mure van Rabba en hulle vestings verteer. Op die dag van die veldslag sal krete opgaan. Die dag as ’n orkaan jou tref, sal dit wees soos ’n stormwind.
15 Hulle koning en sy amptenare sal saam in ballingskap gaan.” Dit is wat die Here gesê het!