1Toe koning Hiskia dit hoor, skeur hy sy klere, trek rouklere aan en gaan na die Here se tempel toe.
2Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leierpriesters, almal met rouklere aan, na die profeet Jesaja seun van Amos.
3Hulle het hom vertel: “So sê koning Hiskia: Dit is ’n dag van benoudheid, teregwysing en skande. Dit is soos ’n kind wat gereed is om gebore te word, maar die moeder het geen krag om geboorte te gee nie.
4Maar miskien het die Here jou God gehoor hoe die hoofadjudant van die Assiriese koning die lewende God gespot het. Dalk sal die Here jou God hom straf oor wat Hy gehoor het. Bid tog vir ons wat nog oorgebly het!”
5Nadat koning Hiskia se amptenare die boodskap by Jesaja afgelewer het,
6antwoord die profeet: “Sê vir julle koning: Dit is wat die Here sê: ‘Moenie bang wees oor die woorde van die boodskappers van die Assiriese koning, en hoe hulle My belaster het nie.
7Luister! Ek sal teen hom optree sodat die koning ’n gerug sal kry en hy na sy land toe sal teruggaan. Dan sal Ek sorg dat hy daar met ’n swaard doodgemaak word.’”
8Die hoofadjudant het toe na die koning van Assirië teruggegaan, maar gehoor dat hy vanaf Lakis verskuif het en besig was om Libna aan te val.
9Kort daarna kry koning Sanherib van Assirië berig dat koning Tirhaka van Kus met ’n leër op pad is om hom aan te val. Voordat hy vertrek om die aanval te weerstaan, stuur hy die volgende brief met boodskappers aan Hiskia in Jerusalem:
10“Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda. Moenie toelaat dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met beloftes dat die koning van Assirië nie Jerusalem sal inneem nie.
11Jy weet alte goed wat die konings van Assirië gedoen het waar hulle ook al gegaan het. Hulle het elkeen wat in hulle pad was, vernietig! Hoekom sou jy dit vryspring?
12Het die gode van ander nasies hulle kom red, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die inwoners van Eden wat in Telassar was? My voorgangers het hulle almal vernietig!
13Wat het gebeur met die koning van Hamat en die koning van Arpad? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14Nadat Hiskia die brief van die boodskappers ontvang en gelees het, gaan hy op na die Here se tempel toe en sprei dit oop voor die Here.
15Toe bid hy voor die Here soos volg: “O Here, God van Israel, U wat oor die serafs troon! U alleen is God oor al die koninkryke op die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.
16Luister tog na my, o Here, en hoor wat ek sê. Maak tog u oë oop en kyk, Here! Luister hoe Sanherib die lewende God beledig!
17“Dit is waar, Here, die konings van Assirië het al hierdie nasies met hulle grondgebiede verwoes.
18Dis waar dat hulle die gode van hierdie nasies verbrand het. Maar natuurlik kon die Assiriërs hulle vernietig! Hulle was glad nie gode nie, net maar beelde van hout en klip, die werk van mensehande.
19Nou, o Here, ons God, red ons uit die mag van Assirië! Dan sal al die koninkryke op die aarde weet dat U alleen, o Here, God is.”
20Toe stuur Jesaja seun van Amos die volgende boodskap aan Hiskia: “Dis wat die Here, die God van Israel, sê: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië gehoor.
21Dit is wat die Here oor hom sê: “Die dogter van Sion verag jou en lag vir jou. Die dogter van Jerusalem kyk jou spottend agterna.
22Wie dink jy het jy beledig en belaglik gemaak? Teen wie het jy jou stem verhef en met trots jou oë opgeslaan? Dit was die Heilige van Israel!
23Deur jou boodskappers het jy die Here gelaster. Jy het gesê: ‘Met my baie strydwaens het ek hoë berge bestyg, die hoogste pieke van die Libanon. Ek het sy hoogste seders, sy keurigste sipresse afgekap. Ek het sy verste uithoeke bereik, sy digte woude binnegedring.
24Ek het putte gegrawe in vreemde lande, myself verkwik met hulle water. Met my voetsole het ek al die riviere van Egipte laat opdroog!’
25“Maar het jy nie gehoor nie? Ek het lankal daaroor besluit. Lank gelede het Ek dit beplan. Nou maak Ek dit werklikheid: dat jy versterkte stede tot rommelhope sal verpletter.
26Hulle inwoners is magteloos, verskrik en beskaamd; soos gras op die veld, broos soos sagte groen gras; soos gras op ’n dak verskroei nog voordat dit opkom.
27“Maar Ek ken jou goed: Ek weet of jy kom of gaan, ook hoe jy uitvaar teen My.
28En weens jou woede teen My en jou verwaandheid wat Ek self gehoor het, sit Ek my haak deur jou neus en my stang in jou mond. Dan sal Ek jou laat teruggaan op die pad waarlangs jy gekom het.
29“Hier is die teken vir jou: Hierdie jaar sal julle eet wat vanself opkom en die volgende jaar wat dáárvan opkom. Maar in die derde jaar sal julle saai en oes. Julle sal wingerde plant en die vrug daarvan eet.
30Dié wat in Juda oorgebly het, sal weer wortelskiet en vrugte dra.
31Want uit Jerusalem sal ’n oorblyfsel voortkom, uit Sionsberg dié wat oorgebly het. Die ywer van die Here self sal dit laat gebeur!
32“Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië: “Hy sal nie in Jerusalem inkom of ’n pyl hier afskiet nie. Hy sal nie met skilde opruk of beleëringswalle teen sy mure ophoop nie.
33Met die pad waarlangs hy gekom het, sal hy teruggaan. Hierdie stad sal hy nie binnegaan nie, sê die Here.
34Ek sal hierdie stad beskerm en red ter wille van my eer en van my dienaar Dawid.”
35Daardie nag het die engel van die Here na die kamp van die Assiriërs gegaan en 185 000 Assiriese manskappe doodgemaak. Toe die Assiriërs die volgende oggend wakker word, kry hulle oral net lyke.
36Toe het koning Sanherib van Assirië kamp afgeslaan en na sy eie land toe teruggegaan. Hy het huis toe, na sy hoofstad Nineve, gegaan en daar gebly.
37Eendag, terwyl hy in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sareser hom met hulle swaarde doodgemaak. Hulle het na Ararat toe gevlug. ’n Ander seun, Eserhaddon, het hom as koning van Assirië opgevolg.