2 Samuel 22
1 Nadat die Here Dawid van al sy vyande en van Saul verlos het, het hy hierdie lied tot eer van die Here gesing. Dit is die woorde van die lied:
2 Die Here is my rots, my vesting en my Redder;
3 my God is my rots, by wie ek skuil. Hy is my skild, die krag van my redding, my vesting, my toevlug, my verlosser wat my red van geweld.
4 Ek sal roep tot die Here, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande.
5 Golwe van die dood omring my; strome van onheil oorweldig my.
6 Bande van die dood omring my, strikke van die dood wag my in.
7 In my angs het ek tot die Here geroep, tot my God geroep om hulp. In sy heiligdom het Hy geluister; my hulpgeroep het Hy gehoor.
8 Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die hemele het gerammel; hulle het geruk vanweë sy toorn.
9 Rook het uit sy neusgate geborrel, verterende vlamme uit sy mond, gloeiende kole uit sy binnekant.
10 Hy het die hemele oopgebreek en afgekom; donkerte was onder sy voete.
11 Hy het op ’n gerub geklim en gevlieg, Hy is gesien op die vlerke van die wind.
12 Hy het homself in donkerte gehul, watermassas en onweerswolke het Hom omsluier.
13 Uit die gloed voor Hom het weerligstrale geblits.
14 Die Here se stem donder uit die hemele; die Allerhoogste laat sy stem hoor.
15 Hy skiet sy pyle, verstrooi sy vyande; sy weerlig flits, hulle is verbysterd.
16 Die bodem van die see word sigbaar, die fondamente van die aarde word ontbloot deur die gebulder van die Here, deur die rukwind van sy asem.
17 Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit diepwaters het Hy my uitgetrek.
18 Hy verlos my van magtige vyande, van haters wat te sterk was vir my.
19 Hulle het aangeval toe ek swak was, maar die Here hou my staande.
20 Hy lei my na ’n oop ruimte, en red my omdat Hy my liefhet.
21 Die Here beloon my opregtheid; Hy vergoed my onskuld,
22 Want ek was getrou aan die voorskrifte van die Here; ek was nie skuldig teenoor my God nie.
23 Sy voorskrifte het ek gevolg en van sy bepalings nie afgewyk nie.
24 Ek is onskuldig voor Hom en het myself weerhou van sonde.
25 Die Here het my opregtheid beloon, want ek was onskuldig voor Hom.
26 Vir die getroues is U getrou; vir die opregtes is U opreg.
27 Vir dié wat rein is, is U rein; vir dié wat vals is, is U vals.
28 U red hulle wat nederig is, maar U verneder die hoogmoediges.
29 U is my lig, o Here. Here, U verlig my duisternis.
30 Met U loop ek ’n leër storm, met my God spring ek oor ’n muur.
31 God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil.
32 Want wie anders as die Here is God? Wie anders as ons God is ’n rots?
33 God maak my sterk; Hy maak my pad veilig.
34 Hy maak my voete soos dié van ’n wildsbok, op hoë plekke laat Hy my veilig staan.
35 Hy oefen my hande vir die geveg, my arms om ’n bronsboog te trek.
36 U redding is vir my ’n skild, u hulp maak my sterk.
37 U verbreed die pad onder my en my enkels swik nie.
38 Ek het my vyande agtervolg en vernietig, ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie.
39 Ek het hulle oorrompel en platgeslaan; hulle kon nie opstaan nie; hulle het voor my voete gesneuwel.
40 U het my met krag toegerus vir die stryd, my teenstanders aan my onderwerp.
41 U het my vyande voor my laat vlug; my haters het ek uitgewis.
42 Hulle roep om hulp, maar niemand kom help nie; hulle roep selfs tot die Here, maar Hy antwoord hulle nie.
43 Ek maal hulle fyn soos die stof van die aarde; soos modder op straat laat ek hulle uitmekaarspat.
44 In die stryd met teenstanders het U my verlos, my oor nasies as koning aangestel. ’n Volk wat ek nie geken het nie, dien my nou.
45 Uitlanders word my onderdane; as hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my.
46 Vreemdelinge word moedeloos en kom bewend uit hulle vestings.
47 Die Here leef! Ek prys my Rots! Ek loof God, die rots van my redding,
48 God gee die oorwinning vir my, onderwerp volke aan my.
49 Hy red my van my vyande. Buite bereik van teenstanders verhef U my; U verlos my van geweldenaars.
50 Daarom, Here, sal ek U prys voor die nasies. Tot eer van u Naam sal ek ’n loflied sing!
51 U gee groot oorwinnings aan u koning; aan u gesalfde is U getrou, aan Dawid en sy nageslag vir altyd!