1 Chronicles 16NLV

1So het hulle die ark na die spesiale tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, gevat. Hulle het brandoffers en dankoffers vir God gebring.

2Toe hulle klaar was met die offers, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here.

3Hy het ’n geskenk van kos vir elke man en vrou in Israel gegee: ’n sny brood, ’n dadelkoek en ’n rosynekoek.

4Dawid het die volgende Leviete aangestel om die volk in aanbidding voor die ark van die Here te lei deur sy seën te vra en die Here die God van Israel te dank en te prys.

5Asaf, die leier van die groep, het die simbale geslaan. Sy assistente was Sagaria, tweede in bevel, Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel. Hulle het harpe en siters bespeel.

6Benaja en Jagasiël, die priesters, het aanhoudend trompette voor die verbondsark van God geblaas.

7Daardie dag het Dawid vir Asaf en sy mede-Leviete hierdie danklied vir die Here gegee:

8Dank die Here, roep sy Naam aan. Laat die nasies weet wat Hy gedoen het.

9Sing vir Hom, ja, besing sy lof! Vertel van sy wonderwerke.

10Juig oor sy heilige Naam. Aanbidders van die Here, wees bly!

11Soek na die Here en sy krag. Hou aan om Hom te soek.

12Dink oor die wonders wat Hy gedoen het, die wonderwerke en die oordele wat Hy uitgespreek het.

13Kinders van Israel, God se kneg, afstammelinge van Jakob, God se verkore een!

14Hy is die Here ons God. Sy heerskappy is oor die hele aarde.

15Hy staan by sy verbond — sy belofte aan duisend geslagte.

16Dit is sy verbond wat Hy met Abraham gesluit het, die eed wat Hy aan Isak gesweer het.

17Hy het dit aan Jakob as insetting bevestig, aan Israel as ’n verbond vir altyd:

18“Ek gee julle die land Kanaän as julle eiendom en erfdeel.”

19Hy het dit gesê toe hulle min was in getal, ’n klein groepie vreemdelinge.

20Hulle het rondgetrek tussen nasies, van een koninkryk na die ander.

21Hy het nie toegelaat dat iemand hulle verdruk nie. Hy het konings oor hulle gewaarsku:

22“Moenie vat aan my gesalfdes nie, moenie my profete beseer nie.”

23Laat almal vir die Here sing! Vertel elke dag dat Hy red.

24Vertel vir die nasies van Hom. Vertel almal van sy wonderdade.

25Want die Here is groot, waardig om geprys te word! Bo al die gode moet Hy geëer word.

26Die gode van die volke is maar net afgode, maar die Here het die hemel gemaak!

27Eer en heerskappy omring Hom, krag en vreugde is in sy woonplek.

28Gee aan die Here, families van die volke, gee aan die Here eer en krag.

29Gee aan die Here die eer wat Hom toekom! Bring jou offers en aanbid Hom. Aanbid die Here in sy heilige heerlikheid.

30Laat die aarde voor Hom bewe. Die wêreld is gevestig en kan nie wankel nie.

31Laat die hemel bly wees en die aarde juig! Sê vir die volke: Die Here is Koning.

32Laat die see weergalm en alles daarin! Laat die veld bly wees en alles daarin!

33Laat die bome van die bos jubel voor die Here! Want Hy kom om die aarde te oordeel.

34Dank die Here, want Hy is goed! Sy troue liefde duur vir altyd.

35Julle moet uitroep: “Red ons, God van ons heil! Versamel en red ons van die nasies, sodat ons u heilige Naam kan dank, sodat ons kan bly wees, en U kan prys!”

36Prys die Here, die God van Israel, vir altyd en altyd! Al die mense het “Amen!” uitgeroep en die Here geprys.

37Dawid het gereël dat Asaf en sy mede-Leviete gereeld voor die verbondsark van die Here diens doen soos elke dag vereis word.

38Hierdie groep sluit ook Obed-Edom, seun van Jedutun, en Gosa en 68 ander Leviete in. Hulle was poortwagters.

39Intussen het Dawid vir Sadok, die priester, en sy medepriesters by die tabernakel van die Here op die Gibeonhoogte gestasioneer.

40Hulle het elke môre en aand die gereelde brandoffers aan die Here geoffer op die altaar wat daarvoor afgesonder is. Hulle het alles gedoen wat geskryf is in die bepalings wat die Here vir Israel gegee het.

41Dawid het ook Heman, Jedutun en die ander aangestel wat uitgesoek is om dank aan die Here te bring, “want sy getroue liefde duur vir altyd!”

42Hulle het hulle trompette, simbale en ander instrumente gebruik om lofliedere aan God te sing. Die seuns van Jedutun is as poortwagters aangestel.

43Die hele volk het na hulle huise toe teruggegaan, en Dawid het teruggegaan om sy familie te seën.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for 1 Chronicles 16.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.