Psalms 56
1 ***
2 Wees goed vir my, God, want daar is mense wat my in die grond in wil trap; hulle voer die hele dag deur ’n stryd teen my. Hulle maak die lewe vir my bitter moeilik.
3 Hulle jaag my die hele dag. Daar is baie trotse mense wat teen my baklei.
4 As ek begin bang word, Here, besluit ek net daar om op U te vertrou.
5 Ek prys God vir sy belofte dat Hy my sal help. Op Hom vertrou ek sonder om bang te wees. Mense kan niks aan my doen nie. Hulle is maar klein en swak.
6 Daardie slegte mense is oneerlik. Hulle verdraai aanmekaar wat ek sê; hulle dink die hele tyd slegte planne uit om my seer te maak.
7 Hulle hou my dop vir ’n geskikte geleentheid om my dood te maak.
8 Sal hulle loskom met al die verkeerde dinge wat hulle doen? Nee, laat almal wat U nie dien nie, tot ’n val kom, o God! Laat hulle u woede voel.
9 U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is. My trane sal ’n dam volmaak. U het daarvan boek gehou, U weet.
10 As ek U die dag om hulp kom vra, sal almal wat nie van my hou nie weghardloop. Ek weet dat God aan my kant is. Hy staan by my.
11 Ek prys God omdat Hy belowe het dat Hy my sal help. Ek loof die Here. Hy hou sy woord.
12 Ek vertrou op God; daarom is ek nie bang nie. Mense kan niks aan my doen nie!
13 God, aan U het ek ook beloftes gemaak. Ek sal dit nakom. Ek wil U loof om dankie te sê dat U my help.
14 Dis wat ek vir U wil terugdoen, want U het my uit die dood gered. U het my gehelp om saam met U op die pad van die lewe te bly, al was dit baie moeilik. U het my in die lewe gehou.