Zephaniah 3
1 Ellende wag vir Jerusalem, die opstandige, besoedelde stad waarin daar soveel verdrukking is.
2 Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie op die Here nie en dien nie sy God nie.
3 Die amptenare in die stad is brullende leeus; sy regters is wolwe wat snags aas soek en tot die môre toe nie genoeg kry om aan te knaag nie;
4 sy profete is roekelose, trouelose mense; sy priesters ontwy wat gewyd is en doen die wet van die Here geweld aan.
5 In dié stad is die Here die regverdige, net Hy doen nie onreg nie. Hy gee môre vir môre sy beslissing; sy beslissing bly nie een dag uit nie en tog ken dié wat onreg doen, geen skaamte nie.
6 Ek het nasies uitgeroei, hulle vestings is vernietig. Ek het hulle paaie verlate gemaak, sonder iemand wat daar loop. Hulle stede is verwoes, daar is niemand nie, nie een inwoner nie.
7 Ek het gedink Jerusalem sal nou vir My ontsag hê en hom laat teregwys, sodat sy woonplek nie vernietig word en al my straf hom tref nie. Maar hy het gretig bly sondig met alles wat hy doen.
8 Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here, wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat. Ek het besluit om nasies bymekaar te maak, koninkryke saam te roep en op hulle my gramskap uit te stort, die volle gloed van my toorn: die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede.
9 Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.
10 Van anderkant die riviere van Kus af sal dié wat My vereer, my verstrooide volk, vir My geskenke bring.
11 Daardie dag sal jy nie meer rede hê om jou te skaam dat jy opstandig teen My was met alles wat jy gedoen het nie, want Ek gaan uit jou uithaal dié wat hulle so verheug het in jou hovaardigheid; jy sal nie meer vol hoogmoed wees daar op my heilige berg nie.
12 Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here.
13 Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal 'n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak.
14 Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!
15 Die Here het 'n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.
16 Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie!
17 Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou:
18 Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.
19 Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het, Ek gaan die kreupeles help, die verstrooides bymekaarmaak en die vernedering wat hulle moes ondergaan, in eer verander, in roem oor die hele aarde.
20 Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak Ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.