Song of Solomon 2AFR83

1Ek is 'n affodil van Saron, 'n lelie van die laagtes!”

2“Soos 'n lelie tussen dorings, so is my liefling tussen die meisies.”

3“Soos 'n appelboom tussen wilde bome, so is die man wat ek liefhet, tussen die jongmans. Ek sit graag in sy skaduwee, sy vrugte is soet in my mond.

4Hy vat my na 'n feesplek toe; hy straal van liefde vir my.

5Julle moet vir my rosyntjies gee om my sterk te maak, julle moet my met appels verfris, want die liefde verteer my.

6Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my.

7Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.

8“Luister, daar kom die man wat ek liefhet! Hy spring oor die berge, hy wip oor die rante.

9Die man wat ek liefhet, maak soos 'n ribbok, soos 'n takboklam. Kyk, daar staan hy agter ons huis se muur, hy kyk by die venster in, hy loer deur die latwerk!

10Die man wat ek liefhet, praat, hy sê vir my: ‘Staan op, my liefling, my mooiste, kom na my toe!

11Kyk, die reëntyd is verby, die reën is oor, dis weg.

12Daar is bloeisels in die veld, dit het tyd geword om te sing; die tortelduif se stem klink oor ons land.

13Die voorvye kom al uit, die wingerde bot en versprei hulle geur. Staan op, my liefling, my mooiste, kom na my toe!

14My duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans, wys my jou gesig, laat hoor my jou stem. Jou stem is strelend, jou gesig lieflik.’

15“Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.

16“Die man wat ek liefhet, is myne, en ek syne. Hy laat sy skape tussen die lelies wei

17tot die aandwind begin waai en die skaduwees lank word. Kom terug, man wat ek liefhet, maak soos 'n ribbok, soos 'n takboklam op die Beterberge.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Song of Solomon 2.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.