Psalms 80AFR83

1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. 'n Getuienis van Asaf. 'n Psalm.

2Luister tog, Herder van Israel, U wat die nageslag van Josef soos 'n kudde lei; U wat oor die gerubs troon, verskyn tog aan ons!

3Openbaar u mag aan die stamme Efraim, Benjamin en Manasse, kom help ons tog!

4Laat dit weer met ons goed gaan, o God, verskyn tog tot ons redding!

5Here, almagtige God, hoe lank nog sal U afsydig staan teenoor die gebed van u volk?

6U het aan ons trane vir kos gegee en ons 'n beker vol verdriet laat drink.

7U laat ons bure teen ons veg, en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

9U het 'n wingerdstok in Egipte uitgehaal en dit hier kom plant nadat U die nasies uitgedrywe het.

10U het vir hom plek reggemaak, sy wortels het gegroei en hy het die land ingeneem.

11Sy skaduwee het die berge oordek, sy ranke die magtige seders.

12Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see, sy lote tot by die Eufraat.

13Waarom het U die mure om hom afgebreek? Al die verbygangers stroop hom,

14die wildevark uit die bos verwoes hom, gediertes uit die veld vreet hom op.

15Almagtige God, kyk tog uit die hemel af en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok, neem hom weer onder u sorg.

16Hou in stand wat U met u eie hand geplant het, die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid verbrand het, deur u oordeel te gronde gaan.

18Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is, oor die volk wat U vir U grootgemaak het.

19Dan sal ons nie weer van U af wegdraai nie. Hou ons aan die lewe, dan sal ons u Naam aanroep!

20Here, almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 80.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.