Psalms 74
1 'n Gedig van Asaf. Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?
2 Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede u eiendom gemaak het, die volk wat U vir Uself as besitting verkry het, Sionsberg waarop U gewoon het!
3 Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê, die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het.
4 Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink, en hulle het hulle vaandel daar opgerig.
5 Dit het gelyk soos wanneer iemand met 'n byl bosse skoonkap.
6 Hulle het al die houtsneewerk met byl en koevoet stukkend geslaan.
7 Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek, die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek.
8 Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.” En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek.
9 U openbaar U nie meer aan ons nie, daar is geen profeet meer nie, niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie.
10 Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder? Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster?
11 Waarom help U ons nie? Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie?
12 God is van altyd af my koning, dit is Hy wat op die aarde redding bring.
13 Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het, U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het.
14 U wat die koppe van die Leviatan verpletter het en hom vir die haaie gegee het,
15 U wat fontein en stroom laat uitbreek het, U wat standhoudende riviere laat opdroog het.
16 Dit is U aan wie dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
17 U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.
18 Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here, 'n barbaarse volk belaster u Naam.
19 Moet tog nie dié wat deur U onderrig is, aan hierdie ondiere uitlewer nie, moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie!
20 Dink tog aan u verbond, want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking.
21 Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie, red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys.
22 Kom tog, o God! Laat geld tog u reg. Dink tog daaraan hoe u eer dag vir dag deur barbare geskend word.
23 Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie: die geskreeu van u teëstanders, die aanhoudende rumoer van u vyande.