Lamentations 4
1 Ag, hoe dof het die goud geword, hoe het die goeie goud sy glans verloor! Die gewyde edelstene lê weggegooi op al die hoeke van die strate!
2 Sion se kosbare inwoners, vroeër so waardevol geag soos suiwer goud — ag, hoe word hulle nou beskou as erdepotte, die werk van 'n pottebakker.
3 Selfs 'n jakkals gee vir sy kleintjie die speen en laat hom drink, maar my volk het so wreed geword soos volstruise in die woestyn.
4 Die suigelinge se tonge sit aan hulle verhemeltes vas van die dors; kindertjies smeek om brood maar niemand gee vir hulle iets nie.
5 Mense wat vroeër ryk geëet het, beswyk nou van honger op die strate, mense wat in weelde grootgeword het, lê nou op die vuilgoedhope.
6 Die sonde van my volk is groter as dié van Sodom wat in 'n oomblik vernietig is sonder dat mense daar 'n hand teen uitgesteek het.
7 Die leiers van Sion het meer glans gehad as sneeu, hulle was witter as melk, blakend gesond van kleur, mooi van voorkoms.
8 Maar nou is hulle swarter as roet, hulle word nie eens op die strate herken nie; hulle is net vel en been, uitgedroog, soos hout.
9 Dié wat deur die swaard doodgemaak is, is beter daaraan toe as dié wat van honger omkom, wat wegkwyn en sterwe omdat die lande geen opbrengs het nie.
10 Met hulle eie hande het moeders wat vroeër liefdevol was, hulle kinders gekook; dit het hulle kos geword toe my volk ineengestort het.
11 Die Here het aan sy gramskap vrye teuels gegee, Hy het sy toorn uitgegiet, Hy het in Sion 'n vuur aangesteek wat hom tot op sy fondamente verteer het.
12 Geeneen van die konings van die aarde, geen mens ter wêreld sou geglo het dat 'n teëstander of enige aanvaller ooit by Jerusalem se poorte sou inkom nie.
13 Dit het gebeur oor die sondes en oortredinge van die stad se profete en priesters deur wie onskuldige mense daar om die lewe gebring is.
14 Profete en priesters het deur die strate gestrompel soos blindes, hulle was bevlek met bloed, niemand wou dit waag om aan hulle klere te raak nie.
15 Mense het vir hulle geskree: “Gee pad! Julle is onrein! Gee pad, gee pad, moenie aan ons raak nie!” En toe hulle vlug en wegstrompel, het ook die heidennasies gesê: “Hulle mag nie hier by ons bly nie!”
16 Die Here self het hulle verstrooi, Hy trek Hom hulle lot nie meer aan nie. Daar is geen meegevoel met die priesters nie, daar word geen genade aan die leiers betoon nie.
17 Ons kyk ons oë moeg om hulp wat nie opdaag nie; van ons wagpos af kyk ons in verwagting uit na 'n nasie wat nie help nie.
18 Ons bewegings word dopgehou, ons kan dit nie op straat waag nie. Ons einde is naby, ons dae is getel, ons einde het aangebreek!
19 Ons agtervolgers was vinniger as die arende in die lug; hulle het in die berge op ons hakke gelê en ons in die woestyn in 'n hinderlaag gelei.
20 Ons koning van wie ons lewe afhanklik is, die gesalfde van die Here, is gevang in hulle vanggate, hy van wie ons gedink het dat ons onder sy beskerming sal leef onder die nasies.
21 Wees gerus maar opgewek en bly, Edom, jy wat in Us woon, maar ook jy sal die oordeelsbeker moet drink, jy sal daarvan dronk word en jouself ontbloot.
22 Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion, die Here sal jou ballingskap nie laat voortduur nie; maar jóú sonde gaan Hy straf, Edom, jóú ongeregtigheid gaan Hy aan die kaak stel.