Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Lamentations 2

:
Afrikaans - AFR83
1 Ag, hoe het die Here in sy toorn die donker laat toesak oor Sion! Hy het die pragstad van Israel tot in die stof verneder, Hy het op die dag van sy toorn sy eie tempel nie ontsien nie.
2 Die Here het geen genade betoon nie, Hy het al die woonplekke van Jakob vernietig, Hy het in sy toorn die vestings van Juda afgebreek. Hy het die koninkryk verwoes, die leiers tot in die stof verneder.
3 Deur sy vernietigende toorn het Hy die krag van Israel heeltemal gebreek. Toe die vyand kom, het die Here sy magtige hand teruggetrek en sy toorn teen Jakob laat brand soos 'n vlam wat alles rondom verteer.
4 Soos 'n vyand het Hy sy boog gespan en aangelê, soos 'n teëstander het Hy al wat dierbaar is, uitgeroei; in die woning van Sion het Hy sy toorn uitgegiet soos vuur.
5 Die Here het soos 'n vyand geword, Hy het Israel vernietig, Hy het al die wonings vernietig, die vestings verwoes, Hy het ellende op ellende oor Juda gebring.
6 Hy het sy eie woning verniel asof dit 'n skerm in 'n tuin is, Hy het die plek van ontmoeting vernietig; die Here het in Sion feestyd en sabbat laat ophou; in sy groot toorn het Hy koning en priester verwerp.
7 Die Here het sy altaar verwerp en sy heiligdom laat vertrap. Hy het die mure rondom die tempelgebou laat afbreek deur die vyand. Hulle het in die huis van die Here gejuig asof dit sy volk is wat daar feesvier.
8 Die Here het besluit om die muur van Sion te verwoes, Hy het bepaal dat dit heeltemal afgebreek moet word, Hy het nie op sy besluit teruggegaan nie; van die vestings en die mure het Hy bouvalle gemaak, hulle daar saam en vergaan.
9 Sion se poorte is begrawe in puin, die sluitbalke is gebreek en aan stukke. Sy koning en sy leiers is weggevoer na die heidene toe. Daar is geen onderrig meer in die wet nie, sy profete ontvang ook geen openbaring meer van die Here nie.
10 Die leiers van Sion sit verslae op die grond, hulle het stof op hulle koppe gegooi en het rouklere aan; die koppe van die jong vroue van Jerusalem hang tot op die grond.
11 My is gedaan van die huil, dit brand in my, my moed is gebreek, want my volk is plat geslaan; kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad.
12 Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink. In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.
13 Wat kan ek vir jou sê, waarmee kan ek jou vergelyk, Jerusalem? Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion? Jou verwonding is soos die see so groot, wie kan jou genees?
14 Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.
15 Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou, hulle fluit en skud hulle kop oor Jerusalem: “Is dit die stad wat genoem is die beeldskone, 'n vreugde vir die hele wêreld?”
16 Al jou vyande rek hulle mond oor jou, hulle spot en kry lekker, hulle sê: “Ons het hom verslind, dit is die dag waarvoor ons gewag het, dit het gebeur, ons beleef dit!”
17 Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, Hy het die woord in vervulling laat gaan wat Hy lank gelede al afgekondig het. Hy het verwoes en geen genade betoon nie, Hy het die vyand hom oor jou laat vermaak, Hy het aan jou teëstanders die oorwinning gegee.
18 Roep tot die Here, Sion, laat jou trane in strome vloei, dag en nag, moet jou nie rus gun nie, moenie dat jou verligting kry nie.
19 Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders, hulle wat van honger beswyk op die hoeke van die strate.
20 Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het: vrouens eet hulle eie kinders, kinders wat in teerheid versorg is; priesters en profete word doodgemaak in die heiligdom van die Here!
21 Jonges en oues dood in die strate; jong vroue en jongmanne het deur die swaard geval. U het hulle neergevel op die dag van u toorn, U het 'n slagting aangerig en geen genade betoon nie.
22 U het al my bure uitgenooi om hier 'n bloedige fees te vier. Op hierdie dag van die Here se toorn kon niemand ontvlug of vrykom nie. My kinders wat ek met teerheid versorg en grootgemaak het, is deur my vyande om die lewe gebring.